top of page

Dissipelskap eis nederigheid - Joh. 1:19-28

Teks: Johannes 1: 19-28


Johannes se gesindheid as dienskneg is besonders oor drie redes:

1. Hoewel Jesus self later vir Johannes identifiseer as die Elia van die Ou Testamentiese profesie (vgl. Matt. 11:14), identifiseer Hy homself eerder as slegs 'n stem wat in die woestyn roep, "Maak die pad vir Hom reguit". Johannes identifiseer homself as 'n stem eerder as 'n persoon en daardeur fokus hy die aandag alleen op Christus en nie op homself nie.

2. Die feit dat Johannes sê : “ …wie se skoene ek nie werd is om los te maak nie”, is ‘n bewys van sy groot nederigheid. Hy besef dat hy niks anders as 'n slaaf in Jesus se teenwoordigheid was nie. ‘n Slaaf wat nie eens werd is om sy Meester se skoene los te maak nie.

3. Elke keer wanneer Johannes die geleentheid gehad het om die fokus op homself te plaas, skuif hy die fokus weg van homself na Jesus as die Messias. ‘n Mooi voorbeeld hiervan is Johannes 3:30 waar hy se: “Hy moet meer word, en ek minder.”

Ons is so anders. Ons lewe gaan daaroor om in die "spotlight" te wil wees. Ons wil wys dat ons waardig is. Ons gryp elke geleentheid aan om ons self te verheerlik. Ons kan nie wag om vir mense te vertel van al die mylpale wat ons bereik het nie.

En as mense nie sien wat ons reggekry het nie, dan herinner ons hulle deur Facebook of ander middele….

Ons dink baie van onsself omdat ons ons waardigheid in verkeerde goed soek. Ons soek goedkeuring van mense en die bewys daarvan is dat ons sukkel om kritiek te aanvaar. Ons raak eerder kwaad, omdat ons daardeur herinner word aan ons tekorte.

Die Bybel leer ons egter dat ons alleen waardig is indien ons die wet van God volkome onderhou. En die probleem is dat nie een van ons dit kan regkry nie.

Hierin is Jesus natuurlik ook die volmaakte voorbeeld. Hy was volkome gehoorsaam aan die Vader. Verder het Hy ook nie belanggestel in wat mense van Hom dink of oor Hom sê nie. Ons lees in hoofstuk 2, 'Hy het Hom nie op hulle verlaat nie..." (2:24). Jesus het nie mense vertrou nie. Hy het alleen sy Vader vertrou.

Ons moet ook hierdie nederigheid na streef, wat deel van die vrug van die Gees is (vgl. Gal. 5:22-23).

Ware dissipels van Jesus ken hul eie swakheid en daarom vertrou hulle op Hom. Ons sonde maak dat ons niks anders is as ander nie. Ons is maar net 'n stem wat in die woestyn getuig van iemand wat by uitnemendheid groter en heerliker is as ons. Jesus het geen sonde gehad nie. Daarom is ons nie eens werd om Jesus se skoene los te maak nie, wat nog van sy voete te was.

Die wie en wat ons is, word daarom bepaal deur ons geloof in Christus. Daarom is dit so belangrik om ook te sien hoe Jesus ons voete kom was het. Hy reinig ons van al ons ongeregtighede. Deur Hom, is ons kinders van God. Dit is wie ons is! En daaraan moet ons in nederigheid vashou.

Nederigheid wat in hierdie waarhede geanker is, getuig van ware dissipelskap.

12 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page