top of page

Eienskappe van 'n navolger van Christus

Teks: 2 Timoteus 2: 1-13


Inleiding:

Die beeld van ‘n soldaat in aktiewe diens is ‘n kragtige metafoor. Dis ‘n beeld wat die gelowige se omstandighede baie mooi beskryf.

‘n Ware Christen doen nie die minimum nie. Hy gee homself volkome, soos ‘n goeie soldaat. Daarom sal ons in hierdie artikel eers kyk na die drie dinge wat ‘n goeie soldaat bereid is om te doen in toewyding aan sy bevelvoerder. Daarna kyk ons hoe ons verlossing in Christus ons help om soos 'n goeie soldaat, in toewyding aan Christus te leef.


1. ‘n Goeie soldaat dra ontberings

Paulus moedig Timoteus deur hierdie woorde aan om bereid te wees om op te offer vir die evangelie. Dit is ook iets waarin Paulus vir Timoteus en elke gelowige ‘n voorbeeld was. In vers 8-9 skryf hy van hierdie opofferings. Hy sê:

“Dit is die evangelie wat ek verkondig. Vir hierdie evangelie ly ek verdrukking, selfs in boeie soos ’n misdadiger, maar die woord van God kan nie geboei word nie. Daarom verdra ek alles ter wille van die uitverkorenes sodat ook hulle die verlossing, wat daar in Christus Jesus is, en die ewige heerlikheid kan ontvang.” (2 Tim. 2:8-10)

Dis wat van ‘n goeie soldaat verwag word. Niks minder as sy lewe nie.

Nou, in ‘n sekere sin is dit vir ons moeilik om hiermee te assosieer. Want ons leef in ‘n groot mate gemaklike lewens. Ons weet nie werklik wat dit beteken om in hierdie geestelike oorlog betrokke te wees en om ontberings te ly ter wille van Christus, soos wat Paulus hier beskryf nie.

Dis wel so dat die omgewing waarin ons leef al meer vyandig gesind raak teenoor uitgesproke gelowiges, maar bitter min van ons het al beleef dat ons nie ‘n werk kry nie as gevolg van ons geloof of dat ons in die tronk gegooi word of doodgemaak word oor ons geloof.

Inteendeel, kyk maar net hoe negatief raak gelowiges wanneer dinge in hul lewe begin skeefloop. Die vraag wat seker al die meeste in hierdie tyd van die Korona gevra is, is – Hoekom laat die Here dit toe. Wanneer siekte, gebrek of enige vorm van lyding oor ons pad kom dryf dit die persoon wat nie sy doel as soldaat verstaan nie, tot opstand.

Daarom wys Paulus ons daarop dat ‘n goeie soldaat bereid is om sy deel van die ontberings te dra. ‘n Goeie soldaat weet dat hy sy lewe op die spel plaas terwille van die saak waarvoor hy veg. Daarom is ‘n ware dissipel bereid om ontberings te dra.

Maar, nog ‘n eienskap van ‘n ware dissipel van Christus, en wat ons uit die metafoor van ‘n soldaat kry is:


2. ‘n Goeie soldaat staan in aktiewe diens

Om in aktiewe diens te staan beteken dat jy 24 uur ‘n dag, sewe dae ‘n week aan diens is. Selfs wanneer so soldaat met verlof gaan moet hy gereed wees om enige tyd opgeroep te word vir diens. Sy liggaam, gesondheid, gawes en tyd behoort alles aan die weermag waar hy diens doen.

Wanneer ‘n soldaat opgeroep word om ‘n gevaarlike taak te gaan verrig, word daar eenvoudig van hom verwag om sy lewe op die spel te plaas sonder vrae of huiwering. Dit is wat dit beteken om ‘n soldaat in aktiewe diens te wees.

Ons kan dit nou ook deurtrek na elke gelowige wat in aktiewe diens staan. Want om ‘n gelowige te wees beteken nie net dat jy Sondae kerk toe moet gaan nie. Dit is ongelukkig die realiteit van baie mense se lewens. Hulle godsdienstige lewe bestaan alleen daaruit om sommige Sondae kerk toe te gaan.

Om in aktiewe diens van Christus te staan beteken dat jy in alles wat jy doen ‘n voorbeeld moet wees. Oral waar jy gaan moet mense kan sien dat jy trots is om onder jou Bevelvoerder diens te doen. Alles wat jy doen moet jy doen om Hom, Jesus Christus, tevrede te stel.

Om jou verhouding met jou bevelvoerder, Jesus Christus te verdiep sal jou heel hoogste prioriteit wees. Daarom is dit die tweede eienskap van ‘n ware dissipel. Jy staan in aktiewe diens.


3. ‘n Goeie soldaat bemoei hom nie met die alledaagse nie

Met hierdie woorde word daar nie gesê dat ‘n soldaat nie meer kontak het met sy vriende en omstandighede nie. Dit gaan eerder daaroor dat ‘n soldaat nie meer in daardie verhoudings en omstandighede verstrik en vasgevang word soos vroeër nie.

Waar die soldaat se lewe vroeër daaroor gegaan het om sy vriende tevrede te stel en sy omstandighede te bevorder, het die fokus nou verskuif na sy bevelvoerder toe. Alles gaan nou daaroor om sy bevelvoerder tevrede te stel.

Die dinge van die gewone lewe het vir hom irrelevant geword omdat hy nou daarop fokus om as soldaat ‘n verskil te maak.

Net so moet die gelowige ook attent wees daarop dat die dinge van die gewone lewe nie moet inmeng met sy diens aan die Here nie. Sy hoogste prioriteit in sy lewe is nou om sy Bevelvoerder, Jesus Christus tevrede te stel. En dit is die derde eienskap van ‘n ware dissipel. Hy is nie verkneg in die alledaagse nie.


4. ‘n Goeie soldaat deur die krag van Christus

Hierdie drie sake wat van ‘n goeie soldaat verwag word, lyk dalk nie moeilik nie maar ons ervaring as Christene wys ons dat dit uiters moeilik is. Ons sukkel!!!

Dra jou ontberings

Ons is nie bereid om ontberings te dra nie. Ons wil hê dat die Here ons moet seën met materiële seëninge. Daarom word ons sommer vinnig opstandig wanneer ontberings oor ons pad kom.

Aktiewe diens

Om nie eens te praat van aktiewe diens nie. Ons is nie bereid om ons energie, tyd en geld op iets te spandeer wat nie vir ons hier en nou voordeel sal inhou nie. Ons is nie bereid om ons gemak en sekuriteit op te gee nie.

Bemoei met die alledaagse

Maar wat die heel moeilikste is, is om ons nie te bemoei met die alledaagse nie. En die gevolg is al die bekommernisse wat ons met ons saamdra.

Ons is bekommerd oor wat mense van ons gaan dink. Of ons is bekommer oor ons toekoms, want die ekonomie en die politiek beïnvloed hierdie gemaklike lewe van ons negatief.

Of ons is bekommerd oor ons kinders of kleinkinders. Hoe kan “EK” as ouer vir hulle ‘n beter toekoms gee. Asof ons weet wat die toekoms gaan inhou.

Die rede waarom ons onsself egter met die verkeerde goed bemoei word in vers vier aan ons gegee. Daar staan:

“’n Soldaat in aktiewe diens wat sy bevelvoerder tevrede wil stel, bemoei hom nie met die dinge van die gewone lewe nie.” (2 Tim. 2:4)

Ons is bekommerd oor ons materiële drome, gerief en kinders... omdat ons die verkeerde bevelvoerder tevrede wil stel. Ons is nie gefokus op Christus as ons Bevelvoerder nie, ons wil ons eie bevelvoerder wees en daarom bekommer ons onsself dood.

Paulus wys ons daarom in hierdie gedeelte dat ons ‘n Bevelvoerder het wat ons met ons lewe kan vertrou. Ons kan Hom met ons lewe vertrou omdat Hy bereid was om sy lewe te gee, dit om ons te red.

Ons kan wel nie hierdie drie dinge doen nie, maar ons Bevelvoerder het meer as dit gedoen. Dink net aan al die ontberings wat Jesus Christus bereid was om ter wille van ons te dra. Dit terwyl ons dit nie verdien nie. Hy is die Koning van die heelal en tog was Hy steeds bereid om vir ons sonde te sterf. Hy was bereid om verneder te word, sodat ons die eer kan ontvang as kinders van God.

Verder het Hy vir ons kom wys wat dit werklik beteken om in aktiewe diens te staan. Hy was tot die dood toe getrou aan sy Vader se opdrag. Die Vader het Hom na die aarde gestuur om burgers van sy koninkryk te maak en Hy het elke geleentheid wat Hy gekry het daarvoor gebruik. Hy het twaalf dissipels onderrig in die woord en hulle uitgestuur om ook dissipels te gaan maak. En toe Hy opgevaar het, het Hy ook sy Gees aan elke dissipel gegee om hulle die krag te gee om in aktiewe diens te staan.

Daarom het Hy Homself ook nie bemoei met die dinge van die gewone lewe nie. Die lewe gaan nie oor ‘n mooi en luukse huis waarin jy moet bly nie en daarom sê Hy vir sy dissipels wat hom wil volg dat hulle nie moet dink dat dit ‘n maklike pad is om te loop nie. Hy sê:

“Die Seun van die mens het nie ‘n rusplek vir sy kop nie.” (Matt. 8:20)

En waar elke mens, wat sal gee om eer te ontvang of selfs om as koning gekroon te word, wys Jesus dit van die hand toe die mense Hom wou koning maak, omdat Hy nie gekom het om gedien te word nie maar om te dien.

Hy, die Koning van alle konings het gekom om ons te dien. Dit is die Bevelvoerder wat ons navolg. En dit is net wanneer ons hierdie liefde van Hom begin verstaan wat ons bereid sal wees om ook ons ontberings te dra, in aktiewe diens te staan en ons sal ons nie bemoei met die alledaagse nie.


Slot:

Ons moet besef dat Christus se liefde so groot is vir ons dat Hy bereid was om self na die aarde te kom om ons te verlos. Hy was bereid om tekortkominge te ly. Hy was bereid om alles wat Hy gehad het op te gee om ons te red. Hy doen dit omdat Hy ons liefhet.

Daarom kan ons ook soos Paulus sê dat ons dalk vas gebind kan word, maar die evangelie kan nie gebind word nie.

Ons moet vertel van hierdie Bevelvoerder wat ons het. Hy is betroubaar! Hy dra ons belange op die hart! Hy sterf vir ons sodat ons gered kan word!

Daardie vertroue wat ons in Hom kry, maak dat ons Hom sal wil tevrede stel deur ons ontberings getrou te dra, in aktiewe diens te staan en ons nie te bemoei met die alledaagse nie, maar ons oë gevestig hou op Hom.

Leef met trots onder jou Bevelvoerder!!

100 views0 comments

Recent Posts

See All

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24 Inleiding: In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1]. E

bottom of page