top of page

Gee ons ons daaglikse brood - Joh. 6:1-15

Updated: May 9, 2020

Teks: Johannes 6:1-15


Vers een beklemtoon weereens dat die menigtes Jesus gevolg het oor die wonders wat Hy gedoen het. Hierdie verkeerde perspektief lei dan daartoe dat hulle vir Jesus met geweld wil koning maak (vs. 15). Dit gaan duidelik nie vir hulle oor Jesus en sy wil nie, maar oor dit wat hulle uit die situasie kan baat. Hulle geloof is uiters beperk.

Dan sien ons dat Jesus ook Filippus se geloof op die proef stel. Filippus het al die wondertekens gesien wat Jesus tot nou toe gedoen het. Daarom wil Jesus nou kyk of hy soveel geloof in Hom het dat hy in hierdie menslik onmoontlike situasie op Jesus sal vertrou.

Filippus slaag nie hierdie toets nie, want hy kyk alleen na die menslike middele tot sy beskikking. Die gevolg is dat Filippus in desperaatheid sê:

“Twee honderd mense se dagloon is nie eers genoeg om elkeen van hulle ‘n stukkie brood te laat kry nie.” (Joh. 6:7)

Dit laat ‘n mens dink aan al daardie desperate situasies waar ons ook dikwels voor te staan kom. Situasies waar ons geen uitkoms sien nie en waar ons totaal hopeloos voel. Die finansiële bankrotskap en boonop vernedering wat jy in die gesig staar. ‘n verhouding wat besig is om heeltemal skeef te loop. Die magteloosheid om jou diere te sien vrek tydens droogte.

Daardie magtelose gevoel maak ons desperaat. Desperaatheid wat kan uitloop op die misbruik van alkohol, die pleeg van bedrog of selfs selfmoord. Die wonderlike is om te sien hoe Jesus intree om te red wanneer die mens by die punt kom waar hy besef dat daar geen oplossing vir sy probleem is nie.

Ook hier waar mense sonder voedsel gevoed moet word, tree Jesus as gasheer op. Wat opvallend is van hierdie wonderwerk, is dat die twee wonderwerke wat Johannes tot dusver beskryf het, te doen het met brood en wyn (vgl. 2:1-12). Die twee elemente wat gebruik word by die instelling van die Nagmaal.

Daarom wys hierdie wonderwerk na soveel meer as bloot net nog 'n wonderwerk. Dit wys op die troue versorging van God. Ons staan in groot desperaatheid met ons sonde en tekortkominge voor God. Dag na dag word ons skuld net meer. God tree ook hier in deur vir Jesus na die aarde te stuur. Hy sorg vir ons geestelike behoeftes. Hy gaan uit sy pad uit om ons so te voed. Hy sterf ter wille van ons heil.

Soos in enige verhouding, kry ons nie alles wat ons vra nie, maar een ding leer ons baie duidelik uit hierdie wonderwerk en dit is dat God vir ons gee wat ons nodig het. Hy voorsien in ons daaglikse behoefte soos ons ook in die "Onse Vader" vra.

Ons het nie nodig om desperaat te gryp na menslike oplossings nie. Ons het net nodig om te vertrou. Ons God is in beheer en Hy lei ons na die groen weivelde...

30 views0 comments

Recent Posts

See All

Comentários


bottom of page