top of page

Getuienis dat Jesus waarlik opgestaan het - A

Teks: Johannes 20:1-10

Teksvers: Joh. 20:6-7

Ons dink baie keer aan die gelowiges van daardie tyd as mense wat naïef was in hulle geloof. Hierdie gedeelte wys ons egter dat dit nie vir hulle maklik was om te glo dat Jesus uit die dood sal opstaan nie.

In Handelinge staan dat Jesus met onbetwisbare bewyse getoon het dat Hy leef (Hand. 1:3).

Dit was nie vir die dissipels maklik om te glo nie. In vers 8 lyk dit vir 'n oomblik of Johannes geglo het, maar dan wys die volgende vers ons dat hy geglo het dat Jesus se liggaam weg is. Sy geloof was nog nie ‘n geloof in die opstanding van Jesus nie.

Selfs die dissipels van Jesus kon nie glo voordat hulle nie vir Jesus gesien het nie.

Ons leef ook in 'n tyd waar Jesus se opstanding bevraagteken word. Daarom sal dit wys wees om te gaan kyk wat die dissipels dan finaal oortuig het. Indien dit hulle denke kon verander in 'n diepgaande geloof, dan sal dit wat hulle gesien het ook genoegsaam kan wees om ons geloof te versterk.

Die doeke

Wanneer hierdie gedeelte gelees word, dan kan dit jou laat dink aan ‘n speurder wat by 'n moordtoneel aankom en na al die bewyse kyk om vas te stel wat daar gebeur het.

Dit wat Johannes vir ons hier vertel van die doeke, moes vir hom persoonlik tot bewys wees dat Jesus se liggaam nie gesteel en verskuif is nie. Hy teken dit juis op sodat elke leser tot geloof kan kom (vgl. Joh. 20:31).

Dink so daaraan. Indien die vyand van Jesus sy liggaam wou steel, sou hulle beslis nie die doeke verwyder nie, want dit was 'n liggaam wat besig was om te ontbind. Dit sou baie beter wees om die doeke saam te vat.

Boonop sou hulle ook nie die moeite doen om die kopdoek netjies op te vou nie, want hulle sou so gou moontlik daar wou wegkom.

Dit kon ook nie een van sy dissipels wees wat die liggaam verwyder het in 'n poging om mense te laat dink dat Hy uit die dood opgestaan het nie, want hulle het te veel respek vir Jesus se liggaam gehad en sou daarom ook nie die doeke verwyder het nie.

By nabaat het Johannes besef dat dit wat hulle hier by die graf gesien het, die eerste tekens was van die onbetwisbare bewyse dat Jesus uit die dood opgestaan het.

Om te glo in die opstanding is moeilik, want dit is totaal buite ons realiteit en wat vir ons logies is. Wat ons wel moet doen is om na hierdie duidelike bewyse te kyk wat Johannes hulle met hul eie oë gesien het. Die waarheid word hiermee aan ons bevestig.

Vrae tot introspeksie:

a) Waarom dink jy is dit vir ons so moeilik om in die opstanding van Jesus te glo?

b) Hoe versterk hierdie gedeelte jou in die geloof?

37 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page