top of page

Vrede wat ons dapper en doelgerig maak

Teks: Johannes 20:19-25

Teksvers: Joh. 20:19

Uit vrees vir die Jode, het die dissipels agter geslote deure vergader. Aangesien hulle Leier deur die Jode doodgemaak is, was hulle met goeie rede bang dat die Jode hulle ook sal wil doodmaak.

Jesus het die dissipels ook telkens gewaarsku dat die wêreld hulle sal haat, omdat hulle nie van die wêreld is nie (Joh. 15:18-19; 16:33; 17:14). Hier het die wêreld se haat nou ‘n werklikheid geword.

Dit is ook nie ongewoon vir gelowiges vandag om iets van hierdie vrees te ervaar nie. Die wêreld verwag dikwels van ons om dinge te doen wat ons weet nie reg is nie. Die wêreld dreig dat ons ons werk sal verloor of dat daardie verhouding skipbreuk sal lei of dat jy alles sal verloor.

Die gevolg van al hierdie dreigemente is dat ons ook onsself wil toesluit in 'n vertrek. Ons onttrek ons van die wêreld deur net vir die nodige uit te gaan. Ons is bang vir daardie dreigemente, haat en konflik. Indien ons in hierdie vrees leef, sal dit ons lam maak. Ons sal nie doelgerig kan leef nie.

Kyk hoe help Jesus sy dissipels om die vrees te hanteer.

Hy spreek vrede oor hulle uit

As mense is ons geneig om mense te vrees terwyl mense die minste van ons probleem is. Jesus wys sy dissipels dan ook daarop wanneer Hy vir hulle sê dat hulle eerder Hom moet vrees wat liggaam en siel in die hel kan laat vergaan (Matt. 10:28).

Daarom hou Jesus se vrede soveel meer in as wat die wêreld ons kan bied. Jesus het aan die kruis namens ons gesterf. Hy het die hel van godsverlatenheid in ons plek gedra sodat ons vrede met God mag hê. Wanneer ons die heerlikheid van daardie vrede besef dan verdryf dit alle vrees (1 Joh. 4:18).

Hy gee hulle 'n opdrag (vs. 21)

Die opdrag van Jesus is merkwaardig en hou ook groot troos in. Jesus wys ons daarop dat ons in die wêreld ingestuur word, soos die Vader Hom in die wêreld ingestuur het. Dit is merkwaardig omdat Hy hierdie heerlike taak aan sondige mense gee om te verrig. Hy vertrou ons om hierdie boodskap van vrede en genade aan die wêreld te verkondig sodat die volle getal gelowiges tot geloof kan kom.

Dit is ook vol troos omdat ons weet dat soos Hy die wêreld en al sy dreigemente oorwin het, so sal ons ook oorwin. Selfs al word ons lewens geneem, bly ons oorwinnaars in Christus, want ons sal ook soos Hy uit die dood opstaan.

Hy rus hulle toe

Die wonderlike is dat Jesus ons nie hierdie verantwoordelikheid gee sonder om ons ook toe te rus nie. Hy rus ons toe met die Heilige Gees. In hoofstuk 14:15-30 is die heerlike werk van die Gees verduidelik.

Maar Hy rus ons ook toe met gesag om te kan vergewe. Hierdie vers (23) word dikwels verkeerd verstaan. Dit beteken nie dat ons in onsself die gesag het om enige persoon se sondes te vergewe nie. Dit beteken eerder dat ons vir nuwe gelowiges wat die verlossingsboodskap aanvaar, kan bemoedig deur hulle daarop te wys dat hulle sonde reeds vergewe is. Net so kan ons ook teenoor die wêreld getuig dat niemand wat hardvogtig weier om Jesus as Verlosser te aanvaar vergiffenis sal ontvang nie.

As gelowiges is dit daarom belangrik dat ons vanuit hierdie vrede moet leef wat Jesus vir ons bewerk het. Hierdie vrede maak ons dapper en doelgerig.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink bietjie na oor die vrese wat daar in jou hart is. Wat is die oorsaak daarvan en wat is die gevolge wat dit kan hê?

b) Hoe help die verlossing in Christus jou om hierdie vrees te oorkom?

36 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page