top of page

Moenie langer ongelowig wees nie...

Teks: Johannes 20:26-31

Teksvers: Joh. 20:27

As gevolg van hierdie insident, word daar dikwels verwys na iemand wat sukkel om te glo as die "ongelowige Thomas". Ons moet egter nie net vaskyk in die ongeloof nie. Die mooi van hierdie gedeelte is juis dat Thomas se ongeloof oorgegaan het na geloof.

Johannes maak dit in vers 31 weer duidelik hoekom hy hierdie evangelie opgeteken het. Johannes skryf juis die evangelie sodat ons kan glo.

Daarom hou hy ook vir Thomas aan ons voor. Dis 'n belangrike deel van die evangelie omdat ons hierin gewys word dat die dissipels nie geforseer is om te glo nie. Jesus het hulle met sigbare bewyse oortuig. Verder was hulle ook nie naïef om sommer net enige ding te glo wat aan hulle voorgehou word nie. Ons het in die evangelie te doen met ooggetuies wat akkuraat weergee wat hulle gesien en gehoor het.

Hierdie getuienis is ook belangrik omdat ons weet hoe moeilik dit dikwels vir ons is om te glo. Dit is vir ons moeilik omdat ons ook soos Thomas eers wil sien voordat ons bereid sal wees om te glo.

Dan voel ons ook tereg skuldig oor ons kleingeloof. Kom ons kyk hoe Jesus vir Thomas, en vir ons help om te glo.

Hy is getrou

Hierdie gedeelte maak dit duidelik dat Jesus geweet het dat Thomas vir die ander dissipels gesê het dat hy alleen sal glo indien hy self aan Jesus se wonde kan raak. Hoewel Thomas in 'n oomblik van swakheid getwyfel het, was Jesus steeds getrou. Daarom skryf Paulus: "...as ons ontrou is - Hy bly getrou: Hy kan Homself nie verloën nie." (2 Tim. 2:13)

Die genade van Christus is so groot dat ons ontrouheid aan Hom nie sy liefde vir ons verander nie.

Hy gee ons die bewyse

Verder toon Jesus ook begrip vir Thomas se twyfel deur vir hom die merke te wys en Jesus gee hom die geleentheid om met sy vinger en hand te voel. So help Jesus hom om die twyfel uit sy hart te verdryf maar dan ook met die vermaning, "...Moenie langer ongelowig wees nie..." (Vs. 27).

Die woord word aan ons gegee met baie duidelike bewyse. Alles wat die dissipels oortuig het, is ook vir ons in hierdie evangelie opgeteken en daarom het ons nie rede om verder te twyfel nie. Ons moet ook met ons geestesoog na Jesus kyk en die ongeloof uit ons harte ban. Alles wat ons nodig het om te glo, is in hierdie evangelie opgeteken.

Ons is nie slegter daaraan toe nie

Wanneer Jesus in vers 29 sê dat die wat nie gesien het nie en tog glo gelukkig is, dan kan dit klink of dié wat nie die geleentheid gekry het om te sien nie, slegter daaraan toe is.

Dit is egter glad nie die geval nie, want die wat nie die geleentheid gekry het om te sien nie, sal wel die geleentheid kry om die prediking te hoor (Rom. 10:17). Boonop kom woon die Heilige Gees ook in ons harte wat ons deur die Woord verder sal oortuig van die waarheid. Dit is die rede waarom ons eerder gelukkig en geseënd is (vgl. 14:26).

Moenie dat die ongeloof jou verstrengel nie. Maak jou gedagtes vol met hierdie heerlike evangelie en jy sal sien hoe jou geloof dag na dag versterk word.

Vrae tot introspeksie:

a) In watter opsig kan jy met Thomas assosieer?

b) Wat is die vertroosting wat jy uit hierdie gedeelte verkry?

61 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page