top of page

God werk waar geen mens kan nie

Teks: Genesis 11:10-32

Hier word 'n hele geslagsregister met ons gedeel en by elke man word gesê dat daar ook nog ander seuns en dogters was. Dan eindig die geslagsregister by Abram van wie daar gesê word dat Hy met Sarai getrou het en dat sy onvrugbaar was.

Dit is 'n ramp, want die voortbestaan van die volk van God word bedreig deur 'n vrou wat onvrugbaar is.

Menslik gesproke sal ons daaruit kon aflei dat Abraham en Sarai ‘n slegte keuse was om die voortbestaan van God se volk te verseker. Hoekom sou die Here hierdie twee mense kies en ‘n verbond met hulle sluit. ‘n Verbond wat ‘n groot nageslag inhou?

Die wonderlike van hierdie keuse van die Here is egter dat Hy nie noodwendig die persoon kies wat dink dat hy op homself kan vertrou of die een wat in mense se oë die beste keuse is nie.

Dit is ook dikwels in die Bybelgeskiedenis kenmerkend van God se keuse.

Hy gebruik die onaantreklike Lea uit wie Juda en later al die konings van Israel gebore is en die belangrikste van almal (Gen. 29:16 – 35), Jesus (Matt. 1:1-17).

Hy stuur vir Gideon met net driehonderd man om die magtige Midianiete te gaan verslaan (Rig. 7:16).

Hy kies vir Dawid, die jongste van die seuns van Isai wat in die veld skape opgepas het (1 Sam. 16:11-12).

So kies die Here die een wat weet dat hy totaal afhanklik van Hom is. Die kinderloosheid van Sarai het vir haar en Abraham in ‘n posisie geplaas waar hulle nie anders kon as om op die Here te vertrou nie. Paulus beskryf hierdie situasie soos volg. Hy sê van Abraham:

“Sy seun by die slavin is volgens die loop van die natuur verwek en gebore, maar sy seun by die vrygeborene kragtens ‘n belofte van God.” (Gal. 4:23)

Daarom gaan dit vir die gelowige nie oor die toekoms wat hy vir homself kan bewerk nie. Die gelowige hou vas aan die toekoms wat God vir hom deur Christus bewerk. Daardie belofte gee vir ons hoop vir die toekoms!

So, waarin soek jy jou sukses? Is dit dalk in ‘n groot nageslag, of rykdom, of roem... of staan jou verhouding met die Here sentraal in jou lewe?

Hierdie gedeelte beklemtoon aan ons dat God nie noodwendig deur die sterkes, rykes en menigtes werk nie, want dit is vir hulle dikwels moeilik om God se werk in hul lewe te erken. Daarom leer Jesus ook:

“Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te kom as vir ’n ryke om in die koninkryk van God te kom.” (Luk. 18:25)

Daarom is dit ook hier opmerklik om te sien dat God die kinderlose vrou kies om die uitverkore volk tot stand bring.

Net so was Jesus ook nie deur die mense van sy tyd geag nie. Hy was maar net ‘n timmerman se seun en boonop uit Nasaret. Tog is dit Hy wat die Verlosser van die wêreld word.

Dit is Hy wat die onmoontlike moontlik gemaak het. Sondige mense soos ek en jy word gered op grond van sy versoening.

Moet daarom nie jou verlossing in Christus onderskat nie. Dit gee aan ons onbeskryflike eer, mag en rykdom.

Eer, want ons word kinders van die allerhoogste God.

Mag, omdat ons Vader tot enige iets in staat is.

Rykdom, omdat ons deel het aan die koninkryk van God.

Ons moet daarom nooit die fout maak om eer, aansien en mag in aardse goed te soek nie. Die Here het nie sterk, slim en ryk mense nodig nie. Hy het diensknegte nodig wat op Hom vertrou.

Vrae tot introspeksie:

a) In watter aardse goed soek jy dikwels verkeerdelik jou sukses en toekoms?

b) Hoe verander jou verlossing in Christus hierdie perspektief?

51 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page