top of page

Hoop in die midde van die Koronastorm.

Updated: Apr 17, 2020

Teks: Markus 4: 35-41


Inleiding

Wanneer Jesus sy dissipels aanspreek, omdat hulle nie glo nie, wil mens amper vra, maar wat moes hulle dan doen. Moes hulle dan net geduldig wag en kyk wat met hulle gaan gebeur? Is dit nie fatalisties nie?

Om ʼn fatalistiese uitkyk op die lewe te hê beteken dat jy alles oorlaat aan noodlot. Jy neem dan amper ‘n traak-my-nie-agtige houding in omdat jy meen dat jy in elk geval niks aan die uitkoms kan verander nie.

Christene word dikwels beskou as fatalisties, maar in hierdie gedeelte word ons gewys dat dit nie die geval is nie. ‘n Christen is nie fatalisties nie, maar aktief in die geloof!

Kom ons kyk hierna deur eers te kyk na hierdie vrees... by die dissipels.

1. Die vrees...

Terwyl Jesus en sy dissipels in 'n boot op die see was, bars 'n storm los sodat die golwe in die skuit slaan en die skuit vol water word. Daarom maak die dissipels Jesus in ontsteltenis wakker. Hy bestraf dan die wind en see en vra, "Waarom is julle bang? Het julle dan nie geloof nie?"

Wat Jesus hier wil beklemtoon is dat ons sonder om fatalisties te wees, steeds die teenwoordigheid van God in ons lewens moet erken. Dis wat Jesus hier benadruk.

Dit is presies wat die dissipels nie gedoen het nie. En die bewys daarvan is in hulle reaksie. Toe hulle hierdie dinge sien gebeur, lees ons dat groot vrees hulle oorweldig het.

Wat is die dinge in jou lewe wat groot vrees in jou wek? Dinge wat wys dat jy nie die Here vertrou nie.

Daardie vrees wat gewek word, omdat ons soos die dissipels hier, by ʼn punt gekom het wat ons besef dat ons niks meer aan die saak kan doen nie. Ons het beheer verloor! Daarom word ons ook half in ons binneste kwaad vir die Here omdat dit vir ons ook voel of Hy (met respek gesê) in die kajuit lê en slaap.

Maar, die ironie is egter dat dit ons is wat slaap. Dis asof ons oë dikwels toe is vir al die heerlike dinge wat die Here in ons lewens doen. Daarom is dit so dat dit eers is wanneer dinge buite ons beheer is dat ons na die Here toe storm in angs.

Ons vergeet maklik dat ons in die aangesig van God is en leef. Ons vergeet omdat ons so hard besig is om in beheer te wees.

Hoor hoe mooi sê die Psalmdigter dit:

“Waarlik, die Beskermer van Israel sluimer nie in nie en Hy slaap nie. Die Here beskerm jou, die Here bewaar jou van alle gevare.” (Ps. 121:4-5)

Glo ons dit of is dit vir die Here nodig om ons ook aan te spreek oor ons klein geloof wanneer die storms om ons woed en ons skielik besef dat ons nie meer in beheer is nie. Is ons oë dan toe vir ons afhanklikheid van God?

Ons moet nie die fout maak om te dink dat ons in eie krag kan leef nie, want wanneer daardie storm kom sal ons ook soos die dissipels dink dat Christus nie omgee dat ons vergaan nie.

Ons sal redeneer dat Hy nie omgee vir sy geliefdes wat in nood verkeer nie. Dit terwyl Hy nie bereid is dat enigeen van sy geliefdes verlore moet gaan nie[1]. Hy het sy lewe daarvoor gegee. Hoe durf ons so dink?

Daarom kon Paulus ook toe hy by geleentheid, in ʼn storm op ʼn klein bootjie op groot see was, in stille geloof op God vertrou dat sy wil sal geskied, want soms red die Here ons van gevaar en ander kere red Hy ons uit die gevaar. Soms red Hy ons van die dood en ander kere gebruik Hy ook die dood om sy naam daardeur te verheerlik[2].

2. Vertrou op Christus!

Vir ons as mense is dit moeilik om te vertrou wanneer ons oorweldig word met die storms wat hier op aarde rondom ons woed, totdat ons sien wat die dissipels hier sien. Nadat Jesus die storm stil gemaak het, staan daar in vers 47:

“En ’n groot vrees het hulle oorweldig, en hulle het vir mekaar gesê: Wie is Hy tog, dat selfs die wind en die see Hom gehoorsaam is! (Mark. 4:41 OAV)

Teenoor God se grootsheid en heerlikheid is selfs die grootste storm klein en gering! In die teenwoordigheid van hierdie openbaring van almag en heerlikheid voel die dissipels so klein dat ʼn groot vrees hulle oorweldig[3].

Die enigste ding wat vir hulle nou meer vreesaanjaende is as hierdie storm wat hulle buite ervaar het, was om God saam met hulle in die boot te hê [4]. "Wie is Hy tog!" Vra hulle!

Die moeilike omstandighede wat ons in hierdie lewe ervaar sal vir ons vreesaanjaend wees totdat ons die Persoon ontmoet wat groter as dit alles is.

Ons sal vol vrees wees totdat ons besef dat daar iemand baie groter by ons in die boot is. Indien ons wil vrees, dan moet ons Hom vrees. Hy spreek net ʼn woord en die storms bedaar.

Jesus is groter as die storms in hierdie lewe, want Hy is God.

Die Ou Testament beklemtoon ook dat dit God is, wat storms laat bedaar.

“Riviere het gedruis, Here, riviere het gedruis, riviere het gedreun, maar hoog bo die geraas van baie waters, hoog bo die golwe van die see, troon die Here in sy koninklike mag.” (Ps. 93:3-4)

Deurdat Jesus hierdie storm stil maak, wys Hy sy dissipels en vir ons dat Hy waaragtig God is. Daarom moet ons leer om Hom te vertrou al beteken dit dat gehoorsaamheid aan Hom soms sal beteken dat ons deur storms sal moet gaan[5]. Die belofte wat Hy ons hier gee is egter dat ons nooi alleen daardeur sal hoef te gaan nie.

Ons troos is dat die Koning van die heelal met ons is. Ons bootjie mag dalk rond geskud word, maar hy sal nie sink nie[6], want Christus het uit die dood opgestaan. Hy was bereid om die grootste storm alleen in te gaan en tot bedaring te roep.

Deur Jesus se opstanding uit die dood, word ons oorwinnaars oor die dood. Jesus se opstanding uit die dood is die bewys dat ons ook sal opstaan uit die dood en daarom is die dood nie vir 'n Christen 'n bedreiging nie.

Die boot mag dalk rondgeskud word, maar ons God is saam met ons en daarom het Dawid gesê:

“Met u hulp loop ek ’n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie.” (Ps. 18:30)

Slot:

Om in stilte op die Here te vertrou is nie fatalisties. Dis juis geloof. Dit wys dat ons besef dat daar waar ons krag ophou, daar begin God se hand van voorsiening en beskerming en liefde eers.

Moenie oorweldig raak deur die storms om jou nie, fokus op Jesus Christus ons Verlosser wat elke oomblik saam met ons is.

[1] Henry, M. (1994). Matthew Henry’s commentary on the whole Bible: complete and unabridged in one volume (p. 1786). Peabody: Hendrickson. [2] Cole, R. A. (1994). Mark. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 959). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [3] Groenewald, E. P. (1973). Die evangelie van Markus (Mk 4:40). Kaapstad: NG Kerk Uitgewers. [4] MacArthur, J. F., Jr. (2006). The MacArthur study Bible: New American Standard Bible. (Mk 4:41). Nashville, TN: Thomas Nelson Publishers. [5] Cole, R. A. (1994). Mark. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 959). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [6] Henry, M. (1994). Matthew Henry’s commentary on the whole Bible: complete and unabridged in one volume (p. 1785). Peabody: Hendrickson.


105 views0 comments

Recent Posts

See All

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24 Inleiding: In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1]. E

コメント


bottom of page