top of page

Hou vas aan dit wat jy in Christus ontvang het - Joh. 7:25-36

Teks: Johannes 7:25-36

Fokus: Joh. 7:34


Ons kry hier met iets van Jesus se doelgerigtheid te doen. Hy kyk verby die vervolging (planne wat gemaak word om Hom dood te maak), moeilike omstandighede en die kruis wat wag. Hy fokus op die heerlikheid wat vir Hom voorlê.

As mense is ons so geneig om vas te kyk in ons omstandighede en die onoorkombaarheid daarvan, dat ons perspektief verloor. Kort voor lank gaan alles daaroor om hierdie een probleem voor ons op te los en dit veroorsaak dat ons in paniek verval.

Dit is dan ook hoe ons kan vasstel wat ons grootste skat is. Daardie dinge wat ons bekommerd en angstig maak. Ons is bang vir die vernedering, die pyn of dalk die magteloosheid wat dit kan veroorsaak.

Teenoor ons aardse skatte, hou Jesus sy oë op die ewige heerlikheid by sy Vader. Dit is sy grootste skat. Dis waar Hy sy hoop en verheerliking soek. Daarom staan daar ook:

“Ter wille van die vreugde wat vir Hom in die vooruitsig was, het Hy die kruis verduur sonder om vir die skande daarvan terug te deins, en Hy sit nou aan die regterkant van die troon van God.” (Heb. 12:2)

Jesus sê in vers 34 dat hulle Hom sal soek en nie kry nie. Die Jode het Hom gesoek en gekry, en later selfs uitgelewer om gekruisig te word. Maar daar kom 'n tyd wat dit te laat sal wees om Hom te soek. Die tyd om Jesus te soek en te kry, sal dan verby wees.

Daarmee moedig Jesus ons aan om betyds na Hom te soek as ons grootste skat. Ons moet Hom soek en nie al die seën en voorspoed wat ons dink ons deur Hom sal kry nie.

Ons moet Hom soek vir wie Hy in Homself is. Hy is die Verlosser wat na hierdie aarde gekom het om ons te red. Ons moet sy heerlikheid en liefde en genade verstaan en Hom liefhê. Dit moet ons fokus in hierdie lewe wees.

Ja, ons sal deur moeilike omstandighede gaan, net soos Jesus, maar ons sal nie alleen wees nie. Indien ons in Hom glo, sal Hy ons in sy liefde omvou en dit sal ons deur elke moeilike omstandigheid dra.

Die tyd om Jesus te soek en te kry is min. Moet daarom nie fokus op die moeilike omstandighede nie, fokus op die einddoel van jou geloof. ‘n Ewigheid in die heerlikheid van God.

18 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page