Teks: Johannes 8:1-11
Fokus: Joh. 8:7
Die doel met hierdie gebeure was om Jesus se geloofwaardigheid in twyfel te trek. Indien Hy, teen die wet van Moses, sou sê dat hulle haar nie moet stenig nie, sou sy kredietwaardigheid daarmee heen wees. Dit sou beteken dat Hy nie die wet van Moses aanvaar nie.
Indien Hy sou sê dat hulle haar moet stenig, sou sy reputasie as iemand met innige medelye en vergewensgesindheid, bevraagteken word. Bo alles sou hulle Hom aan die Romeinse owerheid kon uitlewer, want die Jode was verbied om self die doodsvonnis te voltrek.
Hierdie gedeelte moet ons laat nadink oor ons manier van hantering van sondes in ander mense se lewens. Is ons nie dalk ook te vinnig om mense te veroordeel nie?
Daarom is dit belangrik om te sien dat Jesus nie die sonde goedpraat nie. Die sonde word veroordeel en daarom sê Jesus vir die vrou om te gaan en nie verder te sondig nie, maar sy word nie as persoon verwerp of beledig nie.
Dit is vir ons moeilik om die sonde en die persoon van mekaar te skei. Ons is geneig om die persoon te verkleineer of te verneder wanneer ons voel dat hy/sy nie reg optree nie. Ons sit die sonde eenkant en maak die persoon sleg.
Hoekom doen ons dit dan? In hoogmoed dink ons dat ons darem nie so sleg is nie. Ons redeneer dat ons nooit so iets sal doen nie. Soos iemand wat vir jou jok en jy dan sê, "Hoe kon jy dit aan my doen, ek sal jou nooit kan vergewe nie." So asof jy nog nooit gejok het nie.
Ons druk die splinter dieper en dieper in, want daardeur wil ons ons eie waardigheid beklemtoon. ‘n Voorbeeld hiervan is die bekende komediant Trevor Noah wat ‘n ruk gelede ‘n bespotting van Jesus gemaak het. Dit was verstommend om te sien hoe Christene hom as persoon beledig en afgekraak het.
So, wat leer ons uit Jesus se optrede hier oor die hantering van ander mense se sonde?
Ons sal net anders na mense kan kyk, wanneer ons die genade en liefde sien waarmee Jesus na ons kyk. Hy sê, "Laat die een van julle wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar gooi." (vs. 7)
Kan jy jouself indink hoe hulle moes voel. Hulle bring die vrou voor Jesus sodat die fokus op haar sonde is en dan draai Jesus skielik die fokus weg van haar sonde en plaas die fokus volledig op hulle eie sonde.
Hulle het geweet dat Jesus alles weet. Hy ken selfs hulle diepste hartsbegeertes (vgl. Joh. 7:19). Nou sê Hy dat die een wat 'n skoon gewete het, eerste 'n klip op haar moet gooi.
Nie een het dit gewaag om ‘n klip te gooi nie, want wat as Jesus hulle heimlike sonde aan die lig bring. Daarom draai hulle eerder om en loop weg.
Ons moenie die fout maak om te dink dat ons beter as ander is nie. Ons sonde maak ons almal gelyk voor God. Almal van ons is ewe afhanklik van sy genade. Tog vergewe Hy ons en Hy sterf vir ons sonde sodat ons gered kan word.
Dit moet ons fokus ook wees in die hantering van ander se sonde. Ons fokus moet altyd wees om hulle te help om die sonde te kan raaksien en te bely. Nie om hulle af te breek en hulle sonde oop te vlek vir almal om te sien nie.
Dit is presies wat Jesus vir ons doen. Hy sterf vir ons sonde. Hy maak ons nuut.
Hoe meer ons die diepte van Jesus se liefde en verlossing begin verstaan, hoe meer sal ons die vermoë ontwikkel om daardie onderskeid te kan maak.
Comments