top of page

Jesus genees die emosionele seer

Teks: Genesis 42:1-38

Met die geboorte van Josef se eersgeborene het hy hom Manasse genoem “want,” het hy gesê, “God het my alles laat vergeet: al my swaarkry en alles wat my familie my aangedoen het.” (Gen. 41:51)

Hierdie woorde maak dit duidelik dat Josef sy broers vergewe het, maar die feit dat Josef se broers voor hom te staan kom en diep voor hom buig, moes hierdie ou wonde oopgekrap het. Hierdie situasie het hom laat terugdink aan die drome wat hy gehad het en hoe sy broers daaroor ‘n afkeer in hom gekry het (vgl. Gen. 37:8).

Die realiteit van hierdie oop wonde sien ons ook in die gesprek wat die broers met mekaar in vers 21-22 het. Hulle sê vir mekaar dat hulle die angs in hulle jong broer gesien het toe hy hulle om genade gesmeek het, en tog het hulle hom verkoop. Omdat Josef alles kon verstaan wat sy broers met mekaar praat, het dit hom so geraak dat hy van hulle af weggegaan het om eenkant te huil.

Die feit dat Josef wel sy broers vergewe het, word dan duidelik in die manier hoe hy hulle hanteer. Indien hy die verlede wou wreek sou hy dadelik sy identiteit bekend wou maak sodat hulle presies weet waaroor die lyding gaan. Hy sou ook baie erger dinge aan hulle kon doen as om hulle net vir drie dae op te sluit.

Hoe Josef sy broers hanteer wys daarom dat hy ‘n ander doel voor oë het. Josef wil kyk of hulle gesindheid verander het. Daarom stel hy hulle hier op die proef. Sal hulle dalk weer een uitverkoop om hulleself uit die moeilikheid te kry? Of sal hulle die eerbare ding doen.

Net soos Josef se broers, veroorsaak die sonde wat ons dag na dag doen ook ‘n sluier oor ons oë. Dit maak dat ons nie die volle implikasies van die verlossing en vergiffenis wat ons in Christus ontvang het kan of selfs wil raaksien nie. Ons dink dat ons hierdie saak in onsself sal reg stel. Dan word ons egter elke dag met ons sonde gekonfronteer. Sonde wat ons wys dat ons nie waardig is nie. Sonde wat wys dat ons die ergste leed verdien.

Die spanning bou op oor die feit dat Josef sy broers erken het, terwyl hulle hom nie erken nie.

Dit is opvallend dat ons iets daarvan sien na die opstanding van Jesus. Jesus verskyn aan Maria by die graf en sy erken Hom eers wanneer Hy Homself aan haar openbaar deur haar op haar naam aan te spreek (Joh. 20:16).

Iets soortgelyks gebeur ook met die Emmausgangers. Jesus is saam met hulle op reis. Hulle praat oor al die gebeure by die kruis en Jesus lê vir hulle die Woord uit, maar hulle erken Hom eers wanneer Hy die brood breek en aan hulle gee om te eet (Luk. 24:13-35).

Ons sonde het hierdie breek veroorsaak tussen ons en ons broer, Jesus Christus. Ons kan Hom nie erken vir wie Hy is en vir die genade en liefde wat daar in Hom is, voor Hy nie Homself aan ons openbaar nie.

Die oomblik wat Hy Homself dan wel aan ons openbaar, is ‘n jeuglike dag. Ons sonde sal ons bly kwel tot Hy Homself aan ons openbaar en ons sien dat Hy ons volkome vergewe het. Die sonde en leed wat ons Hom aangedoen het, het Hy volkome op Homself geneem, sonder om van ons te verwag om op een of ander manier te vergoed vir die leed wat Hy moes dra.

Daarom, wanneer ons oë oopgegaan het, moet ons lewens verander. Ons leef nie meer onder daardie juk van die sonde nie. Ons kan Hom nou die liefde en trou bewys wat aan Hom behoort. Ons kan vergewe, soos Hy ons vergewe.

Vrae tot introspeksie:

a) Watter emosionele seer dra jy met jou saam?

b) Hoe help die verlossing in Christus jou om daardie seer te genees?

31 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page