top of page

Kentekens van die kinders van God

Teks: 1 Johannes 3:10-17

Inleiding:

Daar is deesdae mense wat sê dat hulle nie glo nie, maar wel “religious” is. Daarmee wil hulle sê dat hulle nie kerk toe gaan nie, maar hulle glo wel in ‘n opperwese.

Johannes is egter baie duidelik oor hierdie saak. Hy wys ons hier dat daar net een van twee keuses is. Daar is net twee tipe kinders. Daar is kinders van God wat glo dat Jesus vir hulle sonde gesterf het en daarom leef hulle soos God van hulle verwag.

En dan is daar die kinders van Satan[1]. Hulle volg sy voorbeeld na deur te dink dat hulle van beter weet en daarom doen hulle wat hulle wil. Hulle wil nie deur enigiemand voorgeskryf word nie en besonder nie deur ‘n boek wat so lank terug geskryf is nie.

Die feit dat die mense wat hulleself “godsdienstig” noem, probeer om neutraal te wees, wys ook dat hulle nie verstaan wat godsdiens is nie.

Johannes leer ons hier dat alle mense in een van hierdie twee kategorie val. Jy kan alleen besluit dat God jou redder en verlosser is. En as jy besluit om Hom nie te volg nie, dan besluit jy met daardie besluit, dat jy Hom verwerp vir iets anders. Jesus sê ook in dié verband:

“Ek weet dat julle nie koud is nie, en ook nie warm nie. As julle tog maar koud of warm was! Maar nou, omdat julle lou is, nie warm nie en ook nie koud nie, gaan Ek julle uit my mond uitspoeg.” (Rev. 3:15-16)

Daar is nie ‘n middeweg!

Indien jy besluit om nie deel van God se familie te wees nie, sal dit al meer in jou lewe duidelik word. Jy sal self besluit wat reg en verkeerd is. En jy sal in beheer van jou eie lewe wil wees[2].

Dis presies wat Kain gedoen het. Hy het besluit dat hy sal besluit wat vir hom goed en reg is. Sy besluit staan direk teenoor sy broer Abel wat besluit het dat hy hom onderwerp aan God se wil.

Hierdie is die enigste godsdienstige opsies wat daar is. En of jy dit wil erken of nie, jou lewe wys in watter rigting jy gaan. Niemand kan sê dat hy nie godsdienstig is nie, want almal is. Dis hoe God ons gemaak het.

Selfs die Ateïs glo iets. Al is dit dan dat hy niks glo nie. Dis ‘n teologie… Hy glo dat daar nie ‘n god is nie.

So, Johannes leer ons hier dat daar net twee moontlikhede is. Jy is of kind van God, of kind van die duiwel (vgl. vs. 10). Die verskil tussen hierdie twee groepe is liefde.

Liefde is die grootste kenmerk en daarom lyk die kinders van God se liefde radikaal anders as dié van die wêreld:

Daarom is daar veral twee kenmerke van hierdie liefde wat ons onderskei van die wêreld:

Dis liefde wat deel van jou wese is (vs. 15)

Hierdie hele hoofstuk gaan eintlik daaroor dat die gelowige se hele wese vol is van hierdie liefde. Kyk byvoorbeeld na vers 3:

“Elkeen wat hierdie verwagting in verband met Hom koester…” (1 Joh. 3:3)

Koester gaan daaroor dat jy dit versorg en vertroetel. Die gedagte om eendag by die Here te kan wees, maak jou hart warm van opgewondenheid en liefde vir Hom. En kyk wat staan in vers 6:

“Iemand wat in Hom bly, hou nie aan met sondig nie; iemand wat aanhou sondig, het Hom nie gesien nie en ken Hom nie.” (1 Joh. 3:6)

Jy bly in Hom, jy sien Hom en jy ken Hom. Hy is deel van jou. Jy is opgewonde en wanneer jy opgewonde is oor iets, dan kan jy nie ophou om daarna te kyk en daaraan te vat en daaroor te dink nie. En daarom skryf Johannes dan in vers 15:

“Elkeen wat sy broer haat, is ’n moordenaar; en julle weet dat geen moordenaar die ewige lewe in hom het nie.” (1 Joh. 3:15)

Dis iets in ons! Hierdie tipe liefde wys dat ons aan God behoort en daarom kan ons sê dat hierdie vers terug verwys na vers 9.

Die direkte vertaling van vers 9 is: “Elkeen wat uit God gebore is, doen nie meer sonde nie, omdat God se saad in hom bly…” (1 Joh. 3:9; NDV)

God se DNA of Sy saad is in ons ingeplant deur die Heilige Gees. ‘n Kind van die Here is met ander woord weergebore en dit is hoekom hy die besluit kan neem om heilig te leef en lief te hê[3]. Indien jy nie weergebore is nie, sal jy nie bewustelik kan leef as kind van God nie.

Die liefde wat wys dat jy ‘n kind van God is, se oorsprong is in jou hart.

Dis baie belangrik want wanneer ons na die ander godsdienste kyk dan lyk dit op die oog af of almal dieselfde is. Almal verwag van jou dat jy nie moet moord pleeg en egbreek pleeg en steel en jok nie. Daar is ook baie heidene wat goeie lewens leef.

Daarom is die voorbeeld van Kain so treffend. Wanneer jy Genesis 4:3-5 lees, dan sal jy sien dat Kain voorgehou word as ‘n godsdienstige man. Hy het immers ‘n graanoffer aan die Here gebring. Op die oog af lyk Kain en Abel se offers presies dieselfde!

Maar die feit dat Kain moord gepleeg het, wys dat daardie offer maar net gebring was omdat dit van hom verwag is. Omdat dit die regte ding was om op daardie stadium te doen.

Abel het sy offer uit liefde vir die Here gebring. Die liefde in sy hart, die koestering - het hom daartoe gemotiveer!

Daarteenoor het Kain sy offer gegee, bloot omdat dit die regte ding was om te doen. Dis van hom verwag… Dis nie ‘n gehoorsaamheid wat gedryf word deur die liefde vir God nie en daarom wys dit dan dat hy ‘n kind van die duiwel is[4].

Gelowiges en ongelowiges doen dalk almal mooi en goeie goed, maar daar is ‘n wesenlike verskil in die goeie wat gedoen word.

Al die ander gelowe sê dat jy hierdie goed moet doen, want dit word van jou vereis en as jy dit nie doen nie sal die god wat jy aanbid jou straf. Doen hierdie goed om die gode gelukkig te hou. Doen dit sodat jy gered kan word.

Die christelike geloof sê, kyk wie jy in Christus is. Jy is kind van God. Hy het jou gered. Jy is aangeneem om deel te word van sy familie. Kyk hoe lief het Hy jou – koester dit - Daarom… leef soos hy. Nie om iets te kry nie, maar bloot omdat jy sien hoe groot die liefde van God vir jou is. Alleen omdat jy bewus is van wie God in Homself is.

Nie omdat jy bang is nie, maar omdat jy verstaan hoe groot die genade en liefde van die Vader vir jou is. Dis hoekom Johannes in 3:1 in ‘n loflied uitbreek wanneer hy sê:

“Kyk watter groot liefde die Vader aan ons bewys het: Hy noem ons kinders van God, en ons is dit ook.” (1 Joh. 3:1)

Ons doen nie goeie goed om kinders te word nie, ons doen goeie goed, omdat ons al hoe meer bewus raak van die genade en liefde en heerlikheid van die God wat ons aanbid. En die beste van alles is, Hy neem ons aan as sy kinders!

My kindskap motiveer my om te leef soos God omdat ek sterk met Hom as my Vader assosieer.

Hoor mooi, dis nie om iets te kry nie, maar omdat Hy my Vader is! Sy saad is in my hart ingeplant deur die Heilige Gees en dit breek deur na elke faset van my lewe. Daarom is dit kenmerkend van hierdie liefde dat dit uit jou hart kom[5]. Dis die oortuiging dat jy kind is, dat jy wil liefhê!

Dis liefde wat wêreldse grense oorsteek (vs. 15-18)

In vers 11 sê Johannes:

“Dít is immers die boodskap wat julle van die begin af gehoor het: Ons moet mekaar liefhê.” (1 Joh. 3:11)

Hierdie boodskap van naasteliefde het hulle van die begin af gehoor. En toe die dissipels vir Jesus vra, wie hulle naaste is, toe vertel hy aan hulle die gelykenis van die barmhartige Samaritaan.

Die Priester en die Leviet het beide die persoon gesien wat deur rowers aangeval is, maar hulle het hom gerieflikheidshalwe geïgnoreer. Daarteenoor het die Samaritaan gestop, hom na ‘n herberg geneem, al die onkostes op homself geneem en so sorg hy dat hierdie vreemdeling goeie versorging kry.

Dis die tipe naasteliefde waartoe Jesus sy dissipels opgeroep het, want dis die liefde wat Christus aan ons bewys. Ons is vreemdelinge en tog gee Hy sy lewe sodat ons gered kan word. Hy betaal al ons skuld volkome.

Dis ook die tipe naasteliefde wat kenmerkend was van die kerk in die eerste eeu na Christus.

Rodney Stark het ‘n hele boek daaroor geskryf waarin hy wys dat daardie radikale liefde van die kerk, ‘n groot rol daarin gespeel het dat die kerk so drasties gegroei het in daardie tyd.

Hy noem in die boek dat daar baie plae, brande, natuurrampe en verwoesting weens onluste of oorlog, in die stede was waar die vroeë Christene gebly het.

Wat Christene dan so anders gemaak het, was hul reaksie op hierdie rampe. In plaas daarvan om soos die heidene na die platteland te vlug ter wille van oorlewing, het Christene in die stede agtergebly om al die siekes te versorg[6]. Ongeag taal, kultuur of velkleur.

Die Christelike liefde is radikaal. Dit maak dat jy kan liefhê oor kultuur en vel kleur en taal en al die ander grense heen. Dis hoekom ons in Handelinge lees:

“Onder die profete en leraars in die gemeente in Antiogië was Barnabas, Simeon wat ook Niger genoem is, Lucius van Sirene, Manaen wat saam met die heerser Herodes grootgeword het, en Saulus” (Hand. 13:1)

Barnabas – Uit die stam Levi. Dus ‘n Jood. Simeon – die woord Niger is ‘n Griekse woord wat “swart” beteken. Hy was dus heel moontlik uit Afrika[7]. Lucius – Hy was 'n Tunisiër uit Noord-Afrika. Manaen – Hy het saam met Herodes grootgeword wat daarop dui dat hy uit ‘n koninklike huis kom. En Paulus was ‘n Fariseër.

Die Christelike geloof is anders as al die ander gelowe omdat jy nie alleen mense uit jou eie volk, stam of taal liefhet nie.

Die wonder van die kerk is juis dat dit oor kultuurgrense heen liefhet. Indien ons wil hê dat die kerk weer so groot impak op die wêreld rondom ons moet hê, dan moet ons weer begin liefhê soos Jesus ons in die evangelie leer.

Indien hierdie liefde nie deur ons die wêreld ingedra word nie, dan is ons nie ware kerk nie. Dis juis hierdie liefde wat die eerste kerk so spesiaal gemaak het.

Dis ‘n liefde met geen grense nie, want in Christus sien ons dat God se lief ook alle grens oorsteek. Die God van die Heelal verneder Homself deur die gestalte van ‘n mens aan te neem, Dan gaan Hy selfs sover om Homself oor te lewer om gekruisig te word. Die God van lewe, sterf en dit sodat ons gered kan word.

Dis wat Christene van die begin af inspireer om so radikaal lief te hê. Indien ons as kerk dit nie reg kry om so lief te hê nie, dan wys dit dat ons nog nie hierdie liefde van God verstaan en oordink en in ons harte koester nie. Ons verstaan nie die genade daarvan om kind van God te wees nie.

Slot:

Waar word hierdie radikale liefde, hierdie opoffering in jou lewe sigbaar. Het jy lief omdat mens dit van jou verwag, of het jy lief omdat jy in jou hart oortuig is van die heerlike liefde wat God vir jou in Christus het.

Is ons net gefokus op onsself en daarom verwag ons byvoorbeeld dat die kerk en die diakonie net mense in ons gemeente moet help of is ons besig om hierdie grense oor te steek met ons hulp aan al die mense om ons?

Kom ons wys ons liefde deur ons hulp wat al hierdie mensgemaakte grense oorsteek. Kom ons maak Christenskap aantreklik vir alle klasse, deur lief te hê soos Christus ons liefhet.

[1] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1969). Nashville, TN: Word Pub. [2] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [3] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1969). Nashville, TN: Word Pub. [4] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., pp. 1969–1970). Nashville, TN: Word Pub. [5] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (1 Jn 3:15). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [6] https://myocn.net/four-reasons-why-early-christian-church-grew-so-quickly/ [7] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church.

8 views0 comments

Recent Posts

See All

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24 Inleiding: In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1]. E

bottom of page