top of page

Leef met geloofsekerheid!

Teks: 1 Johannes 2:3-11

Inleiding:

Gelowiges word soms oorval met onsekerheid in die geloof. Onsekerheid omdat ons nie die Here so intens beleef soos wat ons graag wil of soos ander mense sê dat hulle God se nabyheid beleef nie.

Of ons is onseker oor ons verhouding met God, omdat ons besef dat ons nog so baie sonde doen. Hoe is dit moontlik dat God ons kan liefhê? Hoe is dit moontlik dat Hy by ons kan wees?

Aan die ander kant kan ons dalk selfversekerd wees oor ons verhouding met die Here. Dit terwyl dit eintlik ‘n valse sekerheid is waaraan ons vashou.

Kom ons kyk wat Johannes ons hier leer oor hierdie sekerheid.

1. ‘n Valse sekerheid

Dis belangrik om te sien dat Johannes met vers 6 aan ons wys dat ware sekerheid oor jou verhouding met God getoets kan word aan interne en eksterne faktore[1]. Kyk wat staan daar in vers 6:

“Wie beweer dat hy in Hom bly, behoort self ook te lewe soos Jesus gelewe het.” (1 Joh. 2:6)

Die eksterne toets is leerstellig en moreel of anders gestel, dis wat ons met ons mond bely en met ons dade doen. In die woorde van hierdie vers moet ons lewe soos Jesus gelewe het.

Ons moet bely dat Hy die lig is en dat Hy die duisternis in ons oorwin (vgl. vs. 8). En hierdie belydenis moet dan deurvloei na ons dade toe deurdat ons in die lig lewe. Ons leef in die lig wanneer ons God en ons naaste liefhet. Dis die eksterne toets wat sigbaar en hoorbaar moet wees.

Die interne toets vind plaas wanneer die Heilige Gees hierdie verhouding met God in jou hart bevestig (vgl. 5:10; Rom. 8:14-16; 2 Kor. 1:12). In die woorde van hierdie vers is dit die “beweer” gedeelte. Hierdie interne toets is daarom onsigbaar vir ander. Dis iets wat alleen in jou verhouding met God gevoel en ervaar kan word.

Dis die eksterne en interne toets, maar die balans tussen die interne en eksterne, is uiters belangrik. Indien die een sonder die ander is, dan is dit ‘n valse sekerheid wat jy het.

Ons sien hierdie valse sekerheid ook vandag, maar ons noem dit anders. Ons noem dit konserwatisme en liberalisme. Dis die twee uiterstes en albei gee vir jou ‘n valse sekerheid.

Aan die eenkant kry jy die konserwatiewe teologie. Dis mense wat hulle sekerheid soek in ‘n morele lewe of in dit wat hulle bely. Hulle soek hulle sekerheid in die suiwer dogma.

Hierdie dogma gee vir hulle sekere reëls wat hulle moet nakom en hulle hou by daardie reëls, want hulle soek hulle sekerheid daarin. Hoe meer jy by die reëls hou, hoe meer sekerheid het jy.

Hierdie reëls bestaan uit goed soos die tipe klere wat jy kerk toe moet aantrek of die manier hoe jy nagmaal moet gebruik of die liedere wat jy MOET sing. En elkeen wat nie by daardie reëls hou nie, op hulle word daar neergekyk en hulle word afgejak as goddeloos.

Indien jy jou sekerheid soek in ‘n klomp reëls wat jy moet nakom, dan leef jy met ‘n valse sekerheid.

Hierdie valse sekerheid sal inteendeel net meer onsekerheid veroorsaak, want elke keer wanneer jy een van hierdie reëls oortree sal jy nie vrymoedigheid hê om na God te gaan nie. Jy sal nie waardig genoeg voel nie. Die eksterne word dus by konserwatisme oorbeklemtoon.

Die liberale teologie is weer van oortuiging dat alles by jouself lê. Hulle vermy weer enige vorm van wet of struktuur en alles hang van jou gevoel af. Jy moet net tevrede wees. En as jy jou sienings aan hulle probeer oordra, dan sal hulle vinnig vir jou sê dat jy arrogant is, want hoe weet jy wat goed sal wees vir iemand anders. Wie gee jou die reg om te oordeel?

Die realiteit van die liberale teologie is dat ons nie die waarheid wat God ons gee, kan aanhou ignoreer nie. Iewers gaan jy baie seer kry. Dis dan wat mense sê dat die Here vir hom gesê het om hierdie besigheidstransaksie te doen en ‘n paar maande later dan speel hy bankrot.

Die liberale siening soek hulle sekerheid in ‘n gevoel (intern) en die probleem met gevoel is, dat jy vandag dalk goed voel, maar môre nie… Ons gevoel is relatief en dikwels ver verwyderd van die waarheid en daarom staan daar:

“Wat ons sondige natuur begeer, is in stryd met wat die Gees wil, en wat die Gees wil, is in stryd met wat ons sondige natuur begeer. Hierdie twee staan lynreg teenoor mekaar, en daarom kan julle nie doen wat julle graag wil nie.” (Gal. 5:17)

So, die oorbeklemtoning van enige een van hierdie twee sienings, lei tot ‘n valse sekerheid.

2. Die ware sekerheid

Johannes gee ons hier twee eksterne bewyse wat sekerheid gee en een interne bewys van sekerheid.

· Ons liefde vir God (ekstern)

“Iemand wat sê: “Ek ken Hom.” Maar nie sy gebooie gehoorsaam nie, is ‘n leuenaar… Wie sy woord egter gehoorsaam – in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik.” (vs. 4)

Kennis, liefde en gehoorsaamheid loop hand aan hand. Ons sien dit ook prakties in ons lewens in elke verhouding waar daar liefde is.

Daardie liefde veroorsaak dat jy die persoon wat jy liefhet beter wil leer ken. Jy wil graag weet waarvan die persoon hou en nie hou nie. Wat hom/haar gelukkig, opgewonde of hartseer maak. En hoe meer jy die persoon ken, hoe meer probeer jy die persoon gelukkig maak deur die dinge te doen waarvan hy/sy hou.

Indien ons die liefde wat Christus aan die kruis aan ons openbaar verstaan, sal dit ongetwyfeld liefde in ons wek. Die liefde sal maak dat ons Hom beter wil leer ken en hoe beter ons God ken, hoe meer sal ons Hom wil gehoorsaam.

Hierdie proses van liefde, kennis en gehoorsaamheid is ‘n teken daarvan dat God Jesus Christus aan ons bekend gemaak het[2].

So, as jy hierdie sekerheid wil hê van ‘n verhouding met God, dan moet jy kyk of jou lewe oor die afgelope 5 jaar verander het. Kan jy sien hoe God besig is om sy doel met jou te bereik deur sy liefde in Christus.

Raak dit vir jou al hoe meer ‘n passie om Hom te gehoorsaam?[3] En dan, nie omdat jy dink dat daardie goeie dade jou sal red nie, maar alleen omdat jy al meer bewus is van die sekerheid van jou verlossing in Christus.

Die sekerheid van jou verlossing, sal maak dat jy jou lewe deur liefde, kennis en gehoorsaamheid aan die Here toewy.

Die volgende teken van ‘n ware verhouding met God is naasteliefde.

· Ons liefde vir ons medemens (ekstern)

Daarom sê Johannes:

“Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie.” (1 Joh. 2:10)

Dit is interessant dat Johannes in vers 8 na hierdie naasteliefde verwys as ‘n nuwe gebod.

Die rede waarom Johannes sê dat dit ‘n nuwe gebod is, terwyl dit ook ‘n gebod is wat die eerste keer ver terug in die Ou Testament gehoor word, is omdat Jesus ‘n totaal nuwe betekenis aan naasteliefde kom gee het.

Jesus se selfopofferende liefde ter wille van sy eie mense is iets wat die wêreld nooit van te vore gesien het nie[4].

Daarom beskryf Johannes hierdie liefde soos volg in hoofstuk 4:

“Werklike liefde is dit: nie die liefde wat ons vir God het nie, maar die liefde wat Hy aan ons bewys het deur sy Seun te stuur as versoening vir ons sondes.” (1 Joh. 4:10)

Jesus se liefde maak dat ons minder selfsugtig en meer opofferend word. Dit maak ons minder ongeduldig omdat ons meer begrip het vir ander se tekortkominge. Hierdie liefde van Christus verander ons lewe, sodat ons ander wil help.

Die lewe sal minder oor my eie geluk en vreugde gaan en ons sal meer daarop fokus om ander op te bou en te help[5].

Wanneer hierdie tipe liefde vir ons naaste in ons lewe begin manifesteer, dan is dit ook ‘n teken daarvan dat ons ‘n innige verhouding met God het.

· Geloof (intern)

Die twee eksterne toetse reflekteer dit wat in jou binneste aangaan. Dit wat intern is.

Ons kan net God en ons naaste opreg liefhê indien die Heilige Gees Jesus Christus in sy volle glorie aan ons openbaar.

Daarom is die derde toets intern. Dit gaan oor hoe jy dink en redeneer en wat jy weet en wie jy vertrou. Die derde toets is die geloof wat in jou hart is.

Johannes verwys na hierdie geloof met die lig metafoor. Hy sê dat ons in die lig moet leef, want as ons in die duisternis bly leef, sal die duisternis ons blind maak.

Ons dade wys met ander woorde of ons in die duisternis leef wat verbygaan en of ons in die lig van Christus se liefde en genade leef[6].

Glo jy werklik dat al die oplossing vir jou probleme in hierdie lewe, alleen in Christus opgelos kan word. Of dink jy die Bybel is ver verwyder van dit wat prakties in die lewe plaasvind?

Glo jy werklik dat jy nie bekommerd hoef te wees oor die dag van môre nie. Dat jou toekoms deur Christus se verlossing bepaal word en nie deur jou harde werk of jou baie geld nie.

Geloof in Jesus die Christus is daarom die derde toets om te kyk of ons ware gemeenskap met God het.

3. Waarom is hierdie sekerheid belangrik?

‘n Kind wat omvou is met die liefde van sy ouers, is selfversekerd. Daardie liefde maak dat hy nie bang is nie, want daardie liefde gee hom die selfvertroue om op te staan vir wat reg is, maar net so gee die liefde hom ook die dapperheid om te erken wanneer hy verkeerd was.

Daarom sê Johannes in vers 5:

“Wie sy woord egter gehoorsaam—in hom het die liefde van God werklik sy doel volkome bereik.” (1 Joh. 2:5)

Die liefde van God trek hierdie balans tussen interne en eksterne sekerheid reg. Dit gee ons die nodige sekerheid, sodat ons God en ons naaste kan liefhê, maar die liefde van God versterk ook ons geloof in Christus.

Dis juis hierdie sekerheid van God se liefde, wat ons krag gee om in enige omstandigheid vol hoop en krag en vreugde te leef.

Hierdie liefde gee ons die sekerheid om te weet dat ons hoort. Dit maak dat ons nie neer hoef te kyk op mense nie, want ons besef dat ons nie in onsself beter is nie. Dis die genade en liefde van Christus wat ons red. Indien ons neer kyk, leef ons nog nie in hierdie sekerheid van die liefde van God nie.

Verder hoef ons nie in elke situasie waar ons waardigheid as mens in twyfel getrek word, ons het nie nodig om verdedigend op te tree nie – want dan verstaan ons ook nog nie hierdie liefde van God nie. Ons leef in die heerlike sekerheid dat ons waardigheid, alleen van Christus se verlossing afhang en nie van dit wat mense van ons dink nie.

Dan sal die liefde van God ook maak dat ons nie veroordelend is teenoor mense wat nie met ons oor alles saam stem nie, want ons sekerheid lê nie meer in standpunte en kennis en redeneringsvermoë nie. Ons sekerheid lê in die waarheid dat ons in Christus gered is.

Maar die liefde van God sal ook veroorsaak dat ons nie in alle situasies net kan toegee nie, want God se wil is belangriker as die wil van mense. Daarom maak die sekerheid van God se liefde ons ook dapper en dit gee ons krag om die sonde in liefde aan te spreek.

Ons kan nie maar net toekyk hoe mense sonde doen nie, want dit is sonde teen ons geliefde, Jesus Christus.

Slot:

Wanneer ons in hierdie lig leef, in hierdie waarheid dat God ons oneindig liefhet in Christus, dan word ons gevul met hierdie heerlike sekerheid. ‘n Sekerheid wat ons lewens verander.

Ons het hierdie heerlike sekerheid dat Christus ons verlos het en ons verenig met God. Niks kan ons van sy liefde skei nie. Dis ‘n heerlike interne sekerheid.

Kom ons wys ook met ons lewe – ja, op ‘n eksterne wyse – dat ons in hierdie sekerheid leef deur God en ons naaste lief te hê.

[1] MacArthur, J., Jr. (Ed.). (1997). The MacArthur Study Bible (electronic ed., p. 1965). Nashville, TN: Word Pub. [2] Morris, L. L. (1994). 1 John. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., pp. 1401–1402). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press. [3] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [4] Vosloo, W., & van Rensburg, F. J. (1993). Die Bybel in Praktyk (Nuwe Vertaling) (1 Jn 2:7). Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy. [5] Keller, T. J. (2013). The Timothy Keller Sermon Archive. New York City: Redeemer Presbyterian Church. [6] Morris, L. L. (1994). 1 John. In D. A. Carson, R. T. France, J. A. Motyer, & G. J. Wenham (Eds.), New Bible commentary: 21st century edition (4th ed., p. 1402). Leicester, England; Downers Grove, IL: Inter-Varsity Press.

19 views0 comments

Recent Posts

See All

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24 Inleiding: In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1]. E

bottom of page