top of page

‘n Hoop wat tot anderkant die dood strek

Teks: Genesis 47:27-31

Jakob wou hê dat selfs sy begrafnis moes getuig van die belofte wat God aan hom en sy nageslag gemaak het. Daarom versoek hy Josef om met ‘n eed aan hom te bevestig dat hy hom nie in Egipte nie, maar in die beloofde land sal gaan begrawe. Hierdie wonderlike hoop op ‘n toekoms, het Jakob selfs met hom die dood ingedra.

Dit laat mens dink oor hoe ons na die dood en ons toekoms kyk. Baie mense beplan net tot hulle dood omdat die ewigheid in Christus nie vir hulle ‘n werklikheid is nie.

Vir ander is die dood so vreesaanjaend dat hulle nie daaraan wil dink nie, wat nog van om daaroor te praat. Ons wil nie daaroor dink nie, want die dood maak ons bang en onseker.

Nie die gelowige nie!!

Die dood en begrafnis hou vir die gelowige ‘n wonderlike hoop in. Daarom beskryf Paulus dit soos volg:

“So is dit ook met die opstanding van die dooies; wat gesaai word, is verganklik en word in onverganklikheid opgewek; wat gesaai word, is gering en word in heerlikheid opgewek; wat gesaai word, is swak en word in krag opgewek. ’n Natuurlike liggaam word gesaai, ’n geestelike liggaam word opgewek.” (1 Kor. 15:42-44)

Paulus gebruik hier die metafoor van saad wat geplant word. ‘n Koringkorrel word gesaai, maar ‘n koringplant groei uit daardie saadjie.

Dis waarop ons begrafnis vir ons wys en daarom is dit sinneloos om sand oor die kis te strooi soos die gewoonte dikwels is. Daardie sand herinner tog aan die vloek:

“…net deur harde werk sal jy kan eet, totdat jy terugkeer na die aarde toe, want daaruit is jy geneem. Stof is jy, en jy sal weer stof word.” (Gen. 3:19)

Indien ons iets oor die kis wil strooi dan moet dit koringkorrels wees, want dit herinner ons aan hierdie heerlikheid en krag waarmee ons opgewek sal word.

Jesus het ons ook hierin vooruitgegaan. Hy is uit die dood opgewek met ‘n verheerlikte liggaam. ‘n Liggaam wat nie gebonde aan tyd en plek was nie. Daarom staan daar ook:

“Maar ons is burgers van die hemel, van waar af ons ook die Here Jesus Christus as Verlosser verwag. Deur die krag waarmee Hy alles aan Homself onderwerp, sal Hy ons nederige liggame verander om soos sy verheerlikte liggaam te wees.” (Fil. 3:20-21)

Jesus se kruisdood en opstanding is die kragtige bewys dat ons eenvoudige en swak liggame ook eendag verander sal word om soos sy verheerlikte liggaam te wees.

Leef elke dag met hierdie hoop. Jesus het ‘n einde kom maak aan die verganklikheid van ons liggaam.

Vrae tot introspeksie:

a) Hoe voel jy oor die dood?

b) Watter troos kry jy in hierdie gedeelte rondom die dood?

9 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page