top of page

'n Lewe vir die Here - Joh. 1:35-42

Teks: Johannes 1: 35-42


Hoekom volg ons Jesus?

Volg ons Hom met die doel om Hom in ons lewe te verheerlik, of volg ons Hom vir eie belang. Ons motief is uiters belangrik, want indien dit nie reg is nie, sal ons geneig wees om in sonde te val.

Ons sien die realiteit hiervan by Johannes. Johannes het besef dat Jesus die wegbereider is en daarom stel hy Jesus se belang bo die van sy eie. Die gevolg was dat toe twee van sy dissipels hom verlaat om agter Jesus aan te gaan, hy nie hulle motiewe bevraagteken het of kwaad was, omdat hulle hom verlaat het nie.

Daarteenoor ervaar ons dikwels soortgelyke situasies as verwerping. Ons bly dan ook sommer lank kwaad vir die persoon, omdat ons eie eer voorop staan.

Ouers voel verwerp wanneer hul kind die huis verlaat en kan selfs daartoe lei dat hierdie ouers dalk so kind se eggenoot verwerp. ‘n Geliefde kom tot sterwe en ons word daarom opstandig teenoor die Here. Jy doen dalk baie moeite om iemand onder jou vlerk te neem net sodat die persoon na ‘n ruk by iemand anders gaan werk. Wat van daardie erfporsie waarop jy jou hart geplaas het en toe nie gekry het nie?

Die gevolg van hierdie en ander soortgelyke situasies is dat ons kwaad, jaloers en misbruik voel. Hoekom? Ons redeneer dat ons soveel vir die persoon gedoen het en nou laat hy/sy ons in die steek.

Anders as Johannes, staan ons eie eer en behoeftes voorop. Ons volg ons eie ambisies en ideale na en dit word altyd sigbaar in die feit dat ons voel asof ons ingedoen word.

Wanneer ons dink aan Jesus, dan besef ons dat Hy soveel meer rede gehad het om misbruik te voel. Sy eie mense het Hom verlaat en verwerp. Selfs sy eie Vader het Hom aan die kruis verlaat (vgl. Matt. 27:46).

Tog gaan Jesus deur dit alles, omdat Hy ons liefhet en vir ons ‘n beter toekoms wil gee. Hy wil ons bevry van die ewige dood.

Daarom sal ons verlossing in Jesus Christus ons altyd daaraan herinner dat ons uiters geliefd is. Die jaloesie en gevoel van verwerping sal net verdwyn indien ons sien wie Christus is en wat Hy vir ons gedoen het.

Hy sterf nie vir Homself nie maar word verneder en verwerp en deur God verlaat om die koninkryk van God (waarvan ons deel is) op te bou en te verlos. Alles wat Hy doen, doen Hy vir ons. Indien dit ons uitkyk op die lewe is, sal ons baie anders kyk na die omstandighede in ons lewe.

God het ‘n doel met elkeen van ons. Wanneer dit my kind se tyd is om die huis te verlaat om in die koninkryk te werk, dan is dit goed so, want dis hoe die koninkryk gebou word.

Tyd en energie wat ons in mense se lewens belê is nooit tevergeefs nie, al verlaat hulle ons. Hulle kan dan op 'n ander plek gaan werk en 'n verskil maak in die koninkryk. Indien ek nie die erfstuk kry waarop my hart was nie, sal ek ook daarby berus, want dis die Here se wil. Hy weet wat die beste vir sy koninkryk is.

Kom ons leef vir die Here en nie vir ons eie ideale en behoeftes nie!

11 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page