top of page

'n Nuwe identiteit

Teks: Johannes 13:1-17

Teksvers: Joh. 13:3

Hierdie gedeelte begin op 'n besondere manier. Dit begin met 'n belydenis van Jesus oor sy liefde vir sy mense. Liefde wat onverdiend, nimmereindigend en onvoorwaardelik is.

Die praktykmaking van hierdie liefde sien mens in dit wat hier gebeur. Jesus was sy dissipels se voete. Mense wat Hom binnekort gaan verloën, verraai en in die steek laat. Wat dit so merkwaardig maak is dat Jesus geweet het van hierdie verraad wat voorlê, en tog beïnvloed dit nie sy liefde vir hulle nie. Hy het geweet dat Judas Hom sal verraai (Joh. 13:11) en dat Petrus Hom sou verloën (Joh. 13:38).

Dit is so anders as ons liefde. Dit is asof ons die sonde wat teen ons gedoen is soveel meer persoonlik opneem. Wanneer iemand jou byvoorbeeld beledig, dan voel dit of die persoon jou menswees aangetas het. Hoe kan jy so persoon dan nog liefhê. Hy maak jou dan sleg en breek jou af. Die sonde van mense maak ons so intens seer omdat dit ons identiteit bevraagteken en dalk selfs ook negatief beïnvloed.

Sielkundiges meen dat jou identiteit bepaal word deur drie basiese vrae, naamlik: Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Waarheen is ek oppad?

Sonde teen ons, is ‘n direkte aanval op ons identiteit. Beledigings tas jou identiteit aan. Dit bevraagteken jou menswees en jou waardigheid.

Dit is soos om op die doring in jou voet te druk. Dit veroorsaak diep pyn.

Net so veroorsaak beledigings diep pyn, omdat ons bewus is van ons sonde nietigheid. Dis asof elke beledigings op daardie swakheid druk, en daarom veroorsaak dit pyn al is dit nie die volle waarheid nie.

In hierdie gedeelte sien ons nou dat Jesus sy dissipels liefhet ten spyte van al die sonde wat teen Hom gedoen word. Die verloëning is ‘n direkte aanval op sy menswees.

Hoe kry Jesus dit dan reg om steeds lief te bly ten spyte van die leed en seer wat mens Hom aandoen?

Die antwoord staan in vers 3. Jesus se identiteit is geanker in iets buite Homself. In vers drie staan...

“Jesus het geweet dat die Vader alles in sy hande gegee het en dat Hy van God gekom het en na God teruggaan.” (Joh. 13:3)

Wie Hy is? - Die Vader se Seun.

Waar kom Hy vandaan? - Van God.

Waarheen Hy oppad is? - Na God terug.

Teenoor ons wat ons reputasie in onsself soek, is Jesus se identiteit geanker in die Vader. Jesus weet wie Hy is en daarom kan Hy die beledigings en vernedering sien vir wat dit is... Leuens! Die waarheid is dat Hy Seun van God is.

Die wonderlike van alles is dat Jesus se verlossing ook aan ons hierdie nuwe identiteit gee.

Ons verlede is vol sonde, maar Jesus het reeds daarvoor betaal. Hy skenk ons ‘n nuwe en skoon kleed. Daarom kan Paulus sê, dat hy hom losmaak van wat agter is en uitstrek na wat voor is (Fil. 3:13). In Christus is ons nou kinders van God. Dit is wie ons nou is en ons weet ook dat ons eindpunt die ewigheid saam met God is.

Hierdie verlossing maak 'n reuse verskil in hoe ons ons lewe nou kan leef. Wanneer iemand my beledig kan ek dit sien vir wat dit is.., 'n leuen! Die waarheid is mos dat ons kinders van God is. Jesus se dood en opstanding is ons bewys en die Gees is die waarborg.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink mooi na oor hierdie vrae: Wie is jy? Waar kom jy vandaan? Waarheen is jy oppad?

b) Hoe sal die waarheid in Christus jou perspektief gee wanneer jy in ‘n situasie is waar jy beledig of verwerp word/voel?

41 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page