top of page

Ons reaksie op haat en beledigings, spreek boekdele!

Teks: 2 Samuel 16: 5-14


Inleiding:

Wat is jou eerste reaksie wanneer jy uitgeskel word?

Hierdie fanatisme en haat wat ons in Simeï se gedrag sien kry elkeen van ons soms in ʼn minder of meerder mate mee te doen. Mense wat so sterk voel oor ʼn saak en dan die situasie heeltemal uit verband ruk. Dis vernederend en onaangenaam.

Die vraag wat dan na die tyd by ons opkom is: “Het ons dit reg hanteer?” Moes ek nie terug beledig het nie? Of het ek nie dalk te ver gegaan nie.

Uit hierdie situasie tussen Simeï en Dawid leer ons as gelowiges baie in hierdie verband, want Dawid is koning oor Israel en tog kom die gedagte om hierdie persoon terug te beledig of selfs te vervolg nie by hom op nie. Hy betoon inteendeel genade en liefde.

Kom ons begin deur te kyk waarom Simeï Dawid gevloek het.

  1. Simeï vloek.

Simeï was nie naby familie van Saul nie, maar hulle was wel albei uit die stam Benjamin.

Die gevoel wat Simeï hier ontbloot was waarskynlik redelik algemeen onder die Benjaminiete. Hierdie familie het Dawid gehaat omdat die koningskap oorgedra is van die stam Benjamin af na Dawid se familie nl. Juda.

Die rede vir Simeï se optrede is dus beide teologies en persoonlik. Persoonlik dink hy dat Dawid verantwoordelik was vir die beëindiging van die koningskap in die stam Benjamin en vir die ondergang van Saul se huis.

Daarom dink hy ook verder (teologies) dat Dawid se persoonlike probleme van die Here af is. Dawid is besig om te vlug vir sy seun Absalom wat die koningskap by Dawid wil oorneem. En Simeï dink dat dit ʼn straf van die Here is oor al die moorde op Saul se geslag .

Maar dit was wel so dat Dawid baie bloed vergiet het, maar die meeste was in opdrag van die Here.

En Simeï verwys hier heel moontlik na die dood van Abner en Is-Boset, wat onderskeidelik Saul se oom en sy seun was, maar Dawid was glad nie verantwoordelik vir hulle dood nie.

Joab het vir Abner dood gemaak omdat Abner Joab se broer dood gemaak het. En dit het wel gebeur nadat Abner by Dawid was, maar die moord was sonder Dawid se goedkeuring.

En Is-boset is weer deur twee bendeleiers om die lewe gebring.

Dawid het dalk baie bloed vergiet maar nie Saul se geslag s’n nie. Inteendeel, toe Saul vir Dawid agtervolg het om hom dood te maak, het Dawid telkens die geleentheid gehad om Saul om die lewe te bring, maar hy het vir Abisai sy wapendraer gesê:

“Jy moet hom nie om die lewe bring nie, want wie sal sy hand oplig teen die gesalfde van die Here en nog onskuldig wees?” (1 Sam. 26:9)

So Simeï het heeltemal oordryf met al sy beskuldigings teenoor Dawid.

  1. God gee die opdrag.

In ons teksvers leer ons egter ʼn baie interessante aspek van die besturing van God. Ons leer dat God die kwaad wat Hy haat, tog ook vir Sy doel kan gebruik. In vers 11 staan:

“Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee” (11b).

Dit sien ons ook telkens in die Bybel. Josef se broers haat hom. Uit haat en jaloesie verkoop hulle hom aan die Egiptenare en jare daarna gebruik die Here Josef om sy eie broers van hongersnood te red.

Paulus het weer ʼn doring in die vlees gehad. Iets wat hom baie gepla het. Of dit fisies of geestelik was weet ons nie, maar hierdie toestand was vir Paulus beslis ʼn groot hindernis. En wanneer Paulus dan die Here vra om dit van hom af weg te neem, sê die Here:

“My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.”

En dan se Paulus

Daarom is ek bly oor swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede ter wille van Christus, want as ek swak is, is ek sterk” (2 Kor. 12:9-10).

Ons swakhede, beledigings, ontberings, vervolging en moeilikhede gebruik die Here in sy raadsplan.

Hierdie is maar enkele voorbeelde van slegte omstandighede wat God in gelowiges se lewens laat gebeur het. Dat dit vir die persone met wie dit gebeur het sleg was is seker. Maar almal het verstaan dat die Here in beheer is en dat Hy weet wat die beste vir hulle as persoon was. Almal kon saam met Job sê:

“As ons die goeie van God aanvaar, moet ons nie ook die slegte aanvaar nie?” (Job 2:10)

En Jesus Christus was natuurlik vir ons die volmaakte voorbeeld. Dink aan al die lyding en moeilikhede waardeur Hy moes gaan. En vir daardie mense wat hom beledig en sleg gesê het, was Hy selfs bereid om voor te sterf. Toe die mense kom om Jesus gevange te neem en Petrus een se oor af kap, sê Jesus vir Petrus:

“Sit jou swaard terug in sy plek... Of dink jy Ek kan nie my Vader om hulp vra nie? Hy sal dadelik vir My meer as twaalf legioene engele beskikbaar stel. Maar hoe sal die Skrif dan vervul word wat sê hoe die dinge moet gebeur?” (Matt. 26:51)

Christus is vir ons die volmaakte voorbeeld. ʼn Voorbeeld van hoe ons na ons omstandigheid moet kyk en hoe ons dit moet hanteer en aanvaar. Toe Hy beledig is, het hy nie terug beledig nie, Hy het gesê:

“Vader vergeef hulle want hulle weet nie wat hulle doen nie”. (Luk. 23:34)

Jesus se dood was die gevolg van mense se haat, maar sy dood was ook die gevolg van God se verlossingswerk. Verlossing was God se einddoel met die beledigings teenoor Christus.

Net so weet ons ook dat God se einddoel met ons omstandighede, ons verlossing is en daarom hierdie derde punt.

  1. Dawid buig voor God.

Die rede hoekom Dawid voor God kon buig is omdat Hy met sy geloof deur Simeï kon kyk en God kon sien wat met hom as persoon werk. Hy het nie daaroor getwyfel dat God Hom as koning aangestel het nie en die beledigings van Simeï het dit nie in die minste verander nie.

Nou, soos ons weet, kan ʼn belediging baie seer maak en veral wanneer ʼn mens, soos Dawid hier, kwesbaar is. Dawid is hier besig om te vlug vir sy eie seun. Hierdie was seer sekerlik die laagte punt van Dawid se koningskap.

Dit is al klaar erg wanneer ʼn vreemdeling in opstand teen ʼn koning kom, maar wanneer dit daarby jou eie seun is, dan word dit ʼn groot vernedering. Daarom was Dawid hier baie kwesbaar.

Daarom was dit dalk vir Dawid ʼn laagtepunt en groot vernedering as maghebber, maar as vrome kind van die Here, was hierdie seer sekerlik ʼn hoogtepunt. ʼn Hoogtepunt omdat Dawid hier sy geloofsvertroue in die Here stel en nie in sy eer, sy mag of sy koningskap nie.

Al beleef Dawid hier ʼn laagte punt in sy koningskap, is hy steeds bereid om goed te doen aan ander, en selfs aan hulle wat hom beledig. Aan iemand wat dit glad nie verdien nie.

Wanneer Dawid hier sê:

“Daarom moet julle hierdie Benjaminiet met rus laat dat hy maar vloek, want die Here het hom die opdrag gegee” (11b).

Wanneer Hy dit sê, dan is Dawid besig om voor God te buig. Hy vertrou op die Here wat in beheer van alles en almal is en nie in sy eie koningskap nie. Hy weet dat selfs nie ʼn haar van sy kop sal val as dit nie die Here se wil is nie.

Nou, indien Dawid dit kon verstaan, moet ons dit soveel te meer in Christus verstaan! Soos Dawid hier genade aan Simeï toon, so het Christus soveel te meer genade aan ons betoon. Die straf wat ons moes kry, het Hy op Homself geneem. Hy sterf as vervloekte in ons plek aan die kruis.

Wanneer ons daardie genade wat ons ontvang het verstaan, dan moet ons mos ook aan ander genade betoon.

Maar bo alles moet ons verstaan wie ons in Christus is. Ons verlossing maak ons erfgename. Ons is God se kinders en hoe meer ons die realiteit van daardie verlossing verstaan, hoe minder sal daardie ongeldige beledigings ons seer maak.

Wie ons is, word mos nie bepaal deur die beledigings wat mense ons toesnou nie! Wie ons is word bepaal deur die bloed van ons Verlosser. Hy het ons so lief dat Hy bereid was om vir ons te sterf! Hy het ons so lief dat Hy in ons plek die vervloekte geword het en daarom is ons kinders van God en geen belediging kan dit verander nie.

Slot:

Die fanatisme en haat wat ons in Simeï se gedrag sien, kom vandag nog in baie kleure en geure in ons lewes na vore.

Maar as Christene moet ons besef dat ons na hierdie haat moet kyk vanuit ons Identiteit in Christus.

Deur kwaad met kwaad te vergeld leef ons nes die wêreld, maar wanneer ons die onreg verdra, dan wys dit dat ons weet wie en wat ons in Christus is. Dan is ons besig om Christus se voorbeeld te volg. Dan is ons besig om te leef soos koningskinders!

Kom ons hou vas aan daardie verlossing wat ons in ons Here, Jesus Christus ontvang het.

31 views0 comments

Recent Posts

See All

Die rol van my gedagtes in my verhouding met God!

Lees: Efesiërs 4:17-24 Inleiding: In Efesiërs 4:17-24 beskryf Paulus die skerp kontras tussen dit wat hierdie gelowiges was toe hulle nog heidene was en dit wat hulle nou geword het in Christus[1]. E

Comments


bottom of page