top of page

Verlos van die wurggreep van sonde

Teks: Johannes 12:9-11

Teksvers: Joh. 12:10

Die kettingreaksie van sonde word hier sigbaar. Een sonde lei tot die volgende.

Van hoofstuk sewe af sien ons dat die Jode vir Jesus gevange wou neem en in hoofstuk 8 het dit geëskaleer na die begeerte om Hom dood te maak.

Hulle wou hom doodmaak omdat hulle nie met Hom saamgestem het nie, maar veral omdat Jesus hulle valsheid uitgewys het.

Nou het dit gebeur dat Jesus vir Lasarus uit die dood opgewek het en die bewyse van sy egtheid is so duidelik vir die volk om te sien dat die Jode moes bontstaan om hulle valse leer te verdedig.

Die enigste oplossing om hulle geloofwaardigheid te behou, was dat hulle nou ook vir Lasarus sal moet doodmaak. Hy was immers die lewende bewys dat Jesus werklik is wie Hy sê Hy is. Boonop kom daar nou baie Jode tot geloof in Jesus omdat Jesus se geloofwaardigheid in Woord en daad bewys is.

Ons ervaar hierdie kettingreaksie ook dikwels in ons eie lewens. Een leuen wat onwillekeurig tot die volgende leuen lei omdat ons ons eie geloofwaardigheid of eer probeer beskerm.

So gebeur dit dalk dat iemand geld steel en dan ‘n getuie ook moet doodmaak sodat sy sonde nie aan die lig kom nie. Jakobus beskryf dit soos volg:

“Maar ’n mens word verlei deur sy eie begeertes wat hom aanlok en saamsleep. Daarna, as die begeertes bevrug geraak het, bring dit die sonde voort; en as die sonde ryp geword het, loop dit uit op die dood.” (Jak. 1:14-15)

Die enigste manier hoe ons bevry kan word van hierdie wurggreep van die sonde is deur die belydenis van sonde. Ons het nodig om die sonde te sien vir wat dit is. Sonde lei tot die dood.

Om jou sonde te kan bely is natuurlik 'n angswekkende gedagte vir ons, want wat gaan mense van ons dink... Ons eer, mag of werk sal tog deur so belydenis bedreig word.

Daarom is dit so belangrik om te sien wie ons in Christus is. Wat ons in Hom kry is soveel meer werd as die eer, mag, werk of enige aardse ding wat bedreig word.

In Jesus vind ons ewige geluk en vrede. Mense sal ons veroordeel, maar deur belydenis breek ons los uit die sonde en daarin lê ‘n heerlike troos. Ons word gered!

Daarom die wonderlike belofte: “As ons beweer dat ons nie sonde het nie, bedrieg ons onsself en is die waarheid nie in ons nie. Maar as ons ons sondes bely—Hy is getrou en regverdig, Hy vergewe ons ons sondes en reinig ons van alle ongeregtigheid.” (1 Joh. 1:8-10)

Ja, daar is konsekwensies vir die sonde wat ons doen, maar deur die sonde te bely kry jy die geleentheid om jou rug op die sonde en die dood te draai. Jesus het gesterf om vir ons hierdie nuwe pad oop te breek. Gryp dit aan!

Vrae tot introspeksie:

a) Waar in jou lewe het jy al hierdie kettingreaksie van die sonde beleef?

b) Watter troos vind jy daarin dat jy jou sonde kan bely?

21 views3 comments

Recent Posts

See All
bottom of page