top of page

Ons toekoms, in die Here se hand

Teks: Genesis 36:1 -42

Soos in die geval van Ismael se geslagsregister (vgl. Gen. 25:12-18), bevat hierdie familie geskiedenis van Esau ook nie veel meer as bloot ‘n geslagsregister nie.

Wat hierdie gedeelte wel duidelik beklemtoon is dat God sy woord gestand doen. In hoofstuk 25 is daar vir Rebekka gesê:

“Daar is twee nasies in jou, twee volke uit jou sal van mekaar geskei word. Een sal sterker wees as die ander, die oudste sal die jongste dien.” (Gen. 25:23)

Dit is daarom opvallend dat Esau die een is wat besluit om weg te trek uit die beloofde land. Die ekonomiese rede wat voorgehou word, herinner ook aan Lot se rede in hoofstuk 13. Die belangrikste is egter om te sien dat dit die vervulling is van die uitspraak dat die oudste die jongste sal dien.

Boonop is dit dan ook die ontstaan van Edom as koninkryk. Hierdie twee nasies, Israel en Edom staan teenoor mekaar waarvan Israel die sterkste is. Ons lees ook later dat die hele Edom aan Dawid onderdanig geword het (2 Sam. 8:13-14).

Daarom herinner hierdie gedeelte ons daaraan dat God in beheer is van tye en omstandighede. Ons verloor so maklik moed wanneer slegte dinge oor ons pad kom, maar hierdie verhaal maak dit duidelik dat God in beheer is. Hy bepaal ons weë. Dit is wonderlik om te sien dat Hy later vir Israel sê:

“Moenie oorlog teen hulle maak nie, want Ek sal nie van hulle grond vir julle gee nie. Nie eers ‘n handbreedte nie, want Ek het Seïrberg vir Esau gegee as besitting.” (Deut. 2:5)

Daarom dat Jesus ook geleer het:

“Hy laat immers sy son opkom oor slegtes en goeies, en Hy laat reën oor dié wat reg doen en oor dié wat verkeerd doen.” (Matt. 5:45)

Tog dink en leef ons dikwels asof ons in beheer is. Ons is geneig om die sukses wat ons behaal aan ons eie goeie werke of verstandelike vermoë toe te skryf. Ons hou nie rekening met God wat die geleenthede gee en die moontlikhede ontplooi nie.

Hierdie gedeelte beklemtoon aan ons dat God wat getrou is in hierdie klein dingetjies, soveel te meer getrou sal wees in die sentrale belofte wat aan ons voorgehou word.

Dit is tog ook hoekom Hy sy enigste Seun gestuur het. Ons kry deel aan sy genade, nie omdat ons goeie mense is nie, maar omdat ons aan Jesus Christus as Verlosser vashou. Ons toekoms word genadiglik nie bepaal deur ons eie goeie werke nie, maar deur dit wat Christus vir ons gedoen het.

Daarom moet dit ook vir elke gelowige belangrik wees om God se hand in sy lewe te erken. Hoe meer ons dit verstaan, hoe beter verstaan ons die Verlossing wat ons in Christus ontvang het.

Vrae tot introspeksie:

a) In watter opsig sien en erken jy die Here se hand van beskerming en/of voorsiening in jou lewe?

21 views1 comment

Recent Posts

See All
bottom of page