Teks: Genesis 4:17-26
In hierdie gedeelte word die nageslag van Kain gestel teenoor die nageslag van Set.
Hierdie gedeelte lê klem op die feit dat daar groot vooruitgang gemaak is deur die nageslag van Kain.
Jabal begin die nomadiese lewe van herders wat algemeen te sien was in die Midde Ooste. Jubal was weer ‘n musikant en hy begin musiek maak met snaar en blaas instrumente. Tubal-Kain was weer ‘n vakman van koper en yster.
Dan lees ons in vers 25-26 van Set wat gebore is en dat hy ook ‘n seun in die wêreld gebring het. Menslik gesproke sluit die perikoop dan stomp af want van Enos word alleen gesê dat hulle begin het om die naam van die Here aan te roep.
Die goddelose geslag van Kain het al hierdie roemryke dinge gedoen, terwyl die godsdienstige geslag van Set die Here begin aanroep het.
Hierdie is so mooi geskryf, want dit is presies hoe die wêreld na godsdiens kyk. Paulus stel dit mooi aan die gemeente in Korinte wanneer hy skryf:
“Dit was die bedoeling van God in sy wysheid dat die wêreld nie deur geleerdheid tot kennis van God sou kom nie. Daarom het God in sy goedheid besluit om deur die prediking wat vir die wêreld onsin is, dié te red wat glo. Die Jode vra wondertekens en die Grieke soek wysheid, maar ons verkondig Christus wat gekruisig is. Vir die Jode is dit ’n aanstoot en vir die ander is dit onsin, maar vir dié wat deur God geroep is, Jode sowel as Grieke, is Christus die krag van God en die wysheid van God.” (1 Kor. 1:21-24)
Dit is presies wat ook hier met Kain se geslag gebeur het. Hulle het hul identiteit geanker in die prestasies en uitvindings wat hulle bereik het. Daarteenoor het die geslag van Set hulle identiteit gesoek in die aanbidding van God.
Tot vandag toe is hierdie ‘n waterskeiding. Waarin soek ons ons identiteit? Wat maak ons waardig?
Ons maak dikwels die fout om te dink dat my titel, geld of bekendheid die bewys is van my waardigheid as mens. Ons soek ons identiteit in aardse goed.
Dit beteken natuurlik nie dat jy nie ambisie mag hê nie, maar wanneer jou ambisie jou waardigheid as mens bepaal, dan moet die rooi ligte flikker.
Jesus is vir ons so mooi voorbeeld hierin. Sy verhouding met die Vader was vir Hom belangriker as enigiets anders in sy lewe. Daarom sê Hy ook vir sy dissipels:
“My voedsel is om die wil te doen van Hom wat My gestuur het, en om sy werk te voltooi.” (Joh. 4:34)
Daarom wys Jesus ons ook deur sy soenverdienste op twee belangrike feite, twee sake waarin ons identiteit geanker moet wees.
1. Ons is nie in onsself waardig nie.
Die feit dat Jesus vir ons sonde moet sterf, wys ons dat ons nie in onsself waardig kan wees nie. Ons is so sondig dat iemand anders moet sterf sodat ons aanvaarbaar kan wees in God se oë.
Dit maak daarom nie saak watter prestasies ons bereik nie, dit is alles besmet met sonde. Ons kan egter nie hier stop nie, want dan sal ons in ‘n minderwaardigheidkompleks verval. Daarom wys Jesus ook…
2. Ons is in Christus waardig gemaak
Ons verlossing lê buite onsself in Christus. Hy was die volmaakte Seun van God. Sy werke was volmaak volgens die wil van God en daarom is Hy die enigste een wat op grond van werke gered kan word.
Tog sterf Hy die dood wat ons moes sterf. Hy word deur God verlaat soos wat ons tot in ewigheid verlaat moes word en daarom kan ons slegs deur geloof in Hom gered word. Ons moet vashou aan dit wat Hy vir ons gedoen het. Ons moet Hom vertrou.
Daarom is daar hierdie belangrike verskil tussen gelowiges en ongelowiges. Die ongelowige rig sy hele lewe daarop om vir homself naam te maak, maar die gelowige rig sy hele lewe daarop om God se Naam groot te maak.
Wees dankbaar vir wat Christus vir jou gedoen het en roep die Naam van die Here in jou lewe aan.
Vrae tot introspeksie:
a) Ondersoek jouself en dink na oor wat vir jou belangrik is in die lewe. Wat gee sin aan jou lewe?
b) Hoe moet jou verhouding met Christus jou identiteit nog verander?
Comments