top of page

Verheerlik God, nie mense nie

Teks: Genesis 6:1-4

Die doel van hierdie gedeelte is baie duidelik. Ons word op die inherente boosheid van die mens gewys. Die boosheid strek so diep dat die mens enigiets sal doen om soos God te kan wees, want die mens is inherent in opstand teen God!!!

Ons teks wys ons daarop dat die reuse al daar was voor hierdie gebeure en daarom is hulle nie, soos mense dikwels beweer, die direkte gevolg van hierdie sonde nie. Hierdie reuse was gewone mense, maar uitsonderlik groot.

Ten opsigte van die woord "hemelwesens" is daar twee vertalingsmoontlikhede. Dit is so dat die woord letterlik vertaal kan word as "seuns van God". In daardie sin van die woord word dit in Job 1:6 & 2:1 direk met die engelewêreld verbind. Daarom word daar dikwels van die standpunt uitgegaan dat hierdie gedeelte daarna verwys dat die mens met gevalle engele omgang gehad het. Hierdie standpunt laat ons egter met baie meer vrae as antwoorde.

Die meer logiese antwoord is soos volg. In die res van die Ou Testament sien ons dat daardie Hebreeuse woord wat met "hemelwesens" vertaal is, ook in Deuteronomium 14:1 en 2 Samuel. 7:14 gebruik word. In daardie konteks word die woord gebruik om te verwys na Israel asook konings as seuns van God.

Die woord kan dus ook gebruik word om na mense met aansien te verwys as seuns van God.

In Mesopotamië was daar dan die gebruik dat pa's hulle ongetroude dogters toewy vir diens in die tempels. So het hulle dan gedien as gewyde prostitute wat gemeenskap met die priesters en welgestelde mans gehad het. Seuns wat dan onder daardie omstandighede gebore is, is ook gesien as seuns van die gode.

Hierdie verhaal beklemtoon daarom die verval van die mens en selfs ook die begin van afgodaanbidding en mensverheerliking.

Die gevolg is dat God die mens se lewensduur verkort sodat die mens kan besef dat hy niks minder is as 'n nietige wese nie.

Ons kan nou dink dat ons darem nie so naïef is nie. Ons is meer gesofistikeerd, maar dit is nie die waarheid nie. Ons sien die tipe mensverheerliking dikwels by begrafnisse. Ons noem die mense dalk nie gode nie, maar ons lewens wys dat ons hulle soos gode behandel. Ons lewens draai om hulle en wanneer die dood oor hulle kom, stort ons lewens in duie.

Net so verheerlik ons ook onsself. Ons doen dit wanneer ons baie wysheid, geld of baie aansien het. Dan dink ons dat alles om ons draai. Ons hanteer mense ook sleg. Kraak mense af. Ons is beterweterig en ons gebruik selfs ons aansien en mag om ander af te pers.

So word dit baie duidelik dat ons ook inherent boos is. Ons verdien die ewige dood. Maar daar was een mens wat waardig is om aanbid te word. Hy sterf ook, maar dit is bloot om vir ons sonde te betaal. Sy Godheid word dan juis duidelik wanneer Hy uit die dood opstaan.

In Jesus word ons ware seuns van God. Maar dan kinders vir wie dit oor God se eer gaan en nie oor ons eie eer nie. Sy wil staan voorop in ons lewe juis omdat ons sy liefde en genade ken. Hy is waardig om die eer te ontvang. Sonder Hom is ons niks en Jesus se verlossing is die bewys daarvan.

As ons nie aan daardie verlossing vashou nie is die ewige dood ons einde.

Vrae tot introspeksie:

a) Wat leer jy hier rondom die verdorwenheid van die mens?

b) Watter hoop kry jy in Christus?

19 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page