top of page

Wanneer die Gees soos strome lewende water uit jou borrel... - Joh. 7:37-39

Teks: Johannes 7:37-39

Fokus: Joh. 7:38


Interessant van hierdie gedeelte, is die diep simboliek wat na vore kom. Die Jode het die tradisie gehad dat die Hoëpriester op die sewende dag van die huttefees, 'n goue bak vol water uit die Siloambad skep. Die bak is dan in 'n optog na die tempel geneem. By die ingang van die tempel is daar op drie trompette geblaas en die volk het dan Jesaja 12:3 opgesê:

"Met blydskap sal julle water skep uit die fontein van redding." (Jes. 12:3)

Die priesters het om die altaar geloop met die bak water terwyl die koor die Hallel (Ps. 113-118) gesing het. Die water is dan aan God geoffer tydens die oggendoffer. Dit was ‘n simbool van die seën wat hulle uit die hand van God ontvang het. Hy het aan hulle genoeg water voorsien vir die graanoes.

Met dit in gedagte kom Jesus nou op hierdie laaste dag van die fees en Hy roep hierdie woorde uit.

"As iemand dors het, laat hom na my toe kom.." (Joh. 7:37)

Die sondeval het ons met 'n groot dors gelaat. 'n Dors na iets meer, iets groter. Dit wat ons gehad het, is van ons weggeneem. Ons verhouding met die groot en almagtige God is vernietig deur ons sonde en gebrokenheid. Ons is nie waardig om na Hom toe te gaan nie.

Die gevolg is dat ons soekend is. Ons soek hierdie vreugde, rykdom, eer, mag en heerlikheid wat ons gehad het voor die sonde val. Oral waar ons soek word ons teleurgestel. Aardse rykdom word in 'n oomblik van ons weggeneem. Siekte vernietig ons gesondheid. Vreugde hou 'n rukkie en dan tref die werklikheid ons weer.

Depressie en angs en selfmoordsyfers is die bewys van hierdie soeke na iets meer wat altyd uitloop op teleurstellings.

Indien ons hierdie vervulling wil beleef, moet ons mooi luister na hierdie uitnodiging van Jesus. Dit bestaan uit drie dele. Dors, Kom en Drink.

Dors

Ons moet ons eie nood besef en erken. Dit is soos 'n alkoholis. Voor hy nie besef dat hy 'n probleem het nie, kan die probleem nie opgelos word nie. Ons moet sien hoe ons soek na vervulling, eer en mag elke keer in een groot gemors eindig. Ons moet besef dat ons hulp nodig het. Hulp buite ons self.

Kom

Wanneer jy jou nood besef, sal jy besef dat jy tot Christus moet nader. Ook hierdie tradisie van die Jode kan nie ware vervulling gee nie. Dit wys vooruit na iets beter en groter. Net so lê die krag ook nie in ons tradisies nie. Alleen in Christus kan ons kry wat ons diepste wese nodig het en daarom moet ons na Hom toe kom.

Drink

Die manier hoe ons drink is deur die Woord en Gees. Ons het die Gees nodig om die woorde in te drink sodat ons dit kan verstaan en ons lewe kan verander. Ons moet bid, Bybelstudie doen en saam met medegelowiges aanbid...

Ons drink wanneer die Gees ons oë begin oopmaak om die heerlikheid van Jesus se verlossing te verstaan. Sy liefde verander dan ons harte en lewens.

Wanneer ons so drink word die gemeenskap met God weer vir ons oopgesluit. Ons begin om in hierdie lewe weer iets te ervaar van dit wat ons verloor het met die sondeval. Daardie liefde van God maak die gelowige se hart so warm dat Hy nie kan ophou om van hierdie water te drink nie.

Wanneer die Gees soos lewende water uit jou borrel, kry jy hoop terwyl niemand om jou meer hoop het nie. Jy word oorval met vrede terwyl die storms om jou woed.

Drink uit hierdie fontein!

77 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page