top of page

Wees sterk en vasberade!

Teks: Genesis 31:1-18

Vandat Jakob die vorige keer wou trek (30:25) tot nou (31:1), het daar ongeveer nog ses jaar verloop (Gen. 31:38). Ses jaar waarin Jakob baie voorspoed beleef het ten opsigte van sy boerdery. Laban weer, het geen vooruitgang gemaak ten opsigte van sy boerdery wat Jakob namens hom bestuur het nie.

Die gevolg was dat die verhoudings versuur het. Nie net die verhouding tussen Jakob en Laban nie, maar ook die verhouding tussen Jakob en Laban se seuns.

In 30:25 was Jakob al reg om te trek, maar Laban het hom oortuig om langer te bly. Hierdie keer bevestig die Here aan Jakob dat dit tyd is om te trek. Hy maak ook weer aan hom die belofte dat Hy by hom is.

Wat dan opvallend is, is dat Jakob ook hier soos ‘n lafaard optree. Hy loop sonder om vir Laban te sê wat sy planne is (Gen. 31:20).

Daar is sekerlik baie redes waarom hy dit gedoen het. Een is dat hy dalk bang was dat Laban hom sal probeer oortuig om langer te bly of miskien was hy bang vir die konfrontasie oor wie se vee wie s’n is.

Dit maak egter nie saak wat die rede was nie, want die dieperliggende rede is duidelik.

In vers 3 sê die Here vir Jakob dat Hy by hom is. In Jakob se optrede is dit egter duidelik dat hy nog nie met hart en siel in daardie verhouding met God leef nie.

Jakob leef nog in sy eie krag en wysheid en voorsienigheid en daarom tree hy soos ‘n lafaard op. Die opinies van mense beheer nog sy lewe.

As gelowiges kan ons ook sterk met Jakob assosieer. Ons leef ook nie altyd in die krag van God se liefde nie, want ons vertrou Hom nie volkome nie. Ons is bang vir wat mense gaan sê en dink. Daarom volg ons ook dikwels die pad wat die minste konflik sal veroorsaak in plaas van die regte en eerbare pad.

Indien ons as gelowiges die regte en eerbare pad wil volg ten spyte van die moontlike konsekwensies, dan moet ons die omvang van Christus se liefde vir ons verstaan. Dis daardie liefde wat ons sal dapper maak.

Iets hiervan sien mens dikwels by ‘n skaam en teruggetrokke persoon. ‘n Nuutgevonde liefde maak dat hy baie meer dapper is en selfs bereid sal wees om vir sy beminde in te tree. Die liefde vir sy beminde, maak dat hy dapper is. Daardie liefde gee vir hom selfvertroue omdat hy weet dat iemand vir wie hy respek het, hom ondersteun, aanvaar en liefhet.

Hoeveel te meer sal ons dapper wees wanneer ons Jesus ken. Sy liefde vir ons is oneindig groot. Hy ag ons van soveel waarde dat Hy bereid was om vir ons te sterf. Hy kom nie om ons te veroordeel nie, maar om ons te red.

Daarom skryf Dawid ook:

“Want met U loop ek ’n bende storm, en met my God spring ek oor ’n muur.” (Ps. 18:30, OAV)

As die Here vir ons is, wie kan dan teen ons wees? Sy liede sal alle vrees in ons verdryf en daarom staan daar ook:

“…Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan.” (Jos. 1:9)

Vrae tot introspeksie:

a) Wat was die rede daarvoor dat jy al in die verlede bang was om die regte ding te doen? Wat was die rede vir die vrees?

b) Wat dink jy het jy nodig om hierdie vrees uit jou hart te verdryf? Gebruik 1 Johannes 4:18 om jou in jou antwoord te begelei.

29 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page