top of page

Wees vergenoegd

Teks: Genesis 37:1 2-36

Die feit dat Israel vir Josef voorgetrek het en Josef sy broers by sy pa verkla het, het gemaak dat sy broers afgunstig was op hom. Hulle was dus gevul met ‘n sterk gevoel van ongelukkigheid oor die sukses, liefde, eer en geluk wat Josef gehad het. Hy het die spesiale klere gekry. Hy was alles in hulle pa se oë.

Die gevolg daarvan was dat hulle begin dink het hoe hulle vir Josef uit hulle lewe kan verwyder sodat hulle pa na hulle kan kyk soos wat hy na Josef kyk.

Afgunstigheid is iets wat maklik in ‘n mens se hart opkom. Daardie ongelukkigheid omdat jou beste vriendin al swanger is met haar tweede of derde kind terwyl julle sukkel om swanger te word.

Daardie ongelukkigheid in jou binneste oor jou broers of susters wat deur jou ouers voorgetrek word of dalk erf hulle iets wat jy graag sou wou hê.

Die ongelukkigheid oor ‘n werkgewer wat jou nie raaksien nie.

Die tipe ongelukkigheid noem ons afguns omdat jy voel dat jy ook verdien wat ander het. Hoe meer jy daaroor top, hoe vinniger kom jy by hierdie punt waar Jakob se broers was. Jy maak jou gedagtes vol planne om daardie sukses, rykdom, liefde, geluk of eer van daardie persoon af weg te neem. Dit doen jy in ‘n poging om alles vir jouself toe te eien.

Die wonderlike van ons verlossing in Christus is dat ons sien hoe lief ons hemelse Vader vir ons is.

Jesus is die ware Seun van God. Hy verdien al die liefde, rykdom en eer en tog sien ons hoe Hy homself oorgee om gekruisig te word. Paulus beskryf dit soos volg:

“Julle ken die genade van ons Here Jesus Christus: hoewel Hy ryk was, het Hy ter wille van julle arm geword, sodat julle deur sy armoede ryk kon word.” (2 Kor. 8:9)

Jesus het nie hierdie rykdom vir Homself gehou nie. Hy sien ons nood en daarom kom Hy na die aarde om ons deel te laat kry aan sy heerlike rykdom. Hy word ‘n slaaf ter wille van ons. Sy klere word van sy lyf afgeskeur sodat ons met die lieflike kleed van sy liefde bedek kan word.

Dit is hoe wyd die liefde van Christus strek. Hy was selfs bereid om te sterf sodat ons deel kan wees van sy Vader se koninkryk. Daarom kan ons nou roep Abba, wat beteken Vader.

Ons kan God aanspreek as ons Vader omdat Jesus met ons sonde aan die kruis afgereken het.

Dit is hierdie verlossing wat maak dat alle vorme van afguns in ons lewe vernietig word, want alles waaroor ‘n mens afgunstig kan wees, ontvang ons in Christus. Ons kan nou in alle omstandighede vergenoeg wees , omdat ons skatryk in Christus is. Dit wat ons in Christus kry is beter as al die rykdom, eer of liefde wat ons in hierdie wêreld kan ontvang.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n geleentheid waar jy afgunstig was teenoor ander.

b) Hoe sal die verlossing in Christus ons help om die afguns in ons lewe te kruisig?

22 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page