top of page

Wees vir ander tot seën

Teks: Genesis 47:1-12

Vers 7 kan letterlik vertaal word dat Jakob ingedra is en gehelp is om voor die farao te staan.

Jakob, die verteenwoordiger van die verbondsvolk staan as ‘n weerlose persoon voor die magtige heerser van Egipte.

Maar die mees opvallendste, en wat ongelukkig wegraak in ons vertaling, is die feit dat Jakob die farao twee keer seën. Die woordjie “groet” in vers 7 & 10 kan letterlik vertaal word met seën.

Dit laat mens dink aan God se belofte:

“…in jou en jou nageslag sal al die volke van die aarde geseën wees.” (Gen. 28:14)

As gelowiges maak ons dikwels die fout om ons waardigheid te soek in ons voorspoed, nering of aansien. Die gevolg is dat ons in sekere situasie goed voel oor onsself en in ander situasies voel ons so klein.

‘n Goeie toets in hierdie verband is om te kyk hoe ons reageer teenoor mense wat meer as ons het en teenoor die wat minder as ons het. Hanteer ons almal dieselfde of kyk ons neer op die wat minder as ons het en voel minderwaardig in die oë van die wat meer as ons het.

Die farao staan nie net hier voor ‘n stok ou man wat bly was om sy seun na vele jare te sien nie. Jakob kon selfs ook dalk so voel, maar die werklikheid is dat die farao voor die verteenwoordiger van God staan.

Ons sal net voor alle mense dieselfde kan optree indien ons weet wie ons in Jesus Christus is. Ons is slegter as wat ons dink, want ons sonde is ‘n gruwel in God se oë, maar ter selfde tyd is ons ook baie meer geliefd as wat ons ooit kan dink, want Christus het met sy bloed betaal sodat ons gered kan word.

Wanneer ons die volle omvang van hierdie genade besef, sal ons besef dat alle mense gelyk is voor God omdat ons almal sonde doen en daarom net waardig is om te sterf. Maar omdat ons ook gered is op grond van die soenverdienste van Christus, moet ons vir die mense om ons tot seën wees. Daarom staan daar:

“In julle harte moet daar net heilige eerbied wees vir Christus die Here. Wees altyd gereed om ’n antwoord te gee aan elkeen wat van julle ’n verduideliking eis oor die hoop wat in julle lewe.” (1 Pet. 3:15)

Moet daarom nooit voel dat jy nie waardig is om in een of ander situasie te getuig nie. Dis nie jou status of geld of goeie lewe wat jou in staat stel nie. Die hoop om in Christus gered te kan word, moet ‘n lied in ons hart wees wat ons aan almal verkondig.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n onlangse situasie waar jy minderwaardig gevoel het. Wat het gemaak dat jy so voel?

b) Wat het jou in hierdie gedeelte opgeval?

12 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page