top of page

Wie of wat bepaal jou lewe?

Teks: Johannes 11:17-32

Teksvers: Joh. 11: 26

In hierdie gedeelte leer ons vir Marta beter ken. Ons sien haar diep geloof deur hierdie mooi belydenis. Wanneer Jesus haar vra of sy in Hom glo, antwoord sy die volgende:

“…ek glo vas dat u die Christus is, die Seun van God, die Een wat na die wêreld toe moes kom.”

Ons sien egter ook haar haas en ongeduld. Sy neem nie die tyd om regtig te dink oor wat Jesus vir haar sê nie. Sy dink reeds aan die volgende dinge wat sy moet gaan doen. Sy moet haar suster laat weet dat Jesus hier is.

Daardeur gaan die heerlike troos wat Jesus haar gee, haar verby.

Dit gebeur ook dikwels met ons. Jy sit in die kerk en dink aan die projek waarmee jy besig is by die werk. Jy wil hierdie Bybelstudie so gou moontlik afhandel omdat 'n klomp goed vir hierdie dag gereed staan om gedoen te word.

Ons lewe word bepaal deur al die dinge wat ons in ‘n dag moet doen. Hoe meer ons vermag, hoe beter voel ons oor onsself.

Daarom roep die Here ons ook vandag met die vraag, “Glo jy dit?” tot stilstand. Glo jy dat lewe alleen in Christus te vinde is, of soek jy lewe in al hierdie tonne goed wat jy nog moet en wil doen.

Fokus ons nie dalk te veel op al die goed wat ons in eie krag moet vermag nie?

Jesus gebruik hierdie geleentheid met Marta om haar geloof te verdiep. Hy wys haar dat Hy alleen die mag het om iemand uit die dood op te wek. Hy kan lewe op enige gegewe tyd gee soos Hy wil.

Daarom gebruik Jesus in vers 25 die woorde "Ek is." Hierdie woorde herinner aan God wat vir Moses by die brandende bos sê om vir die volk te sê dat “Ek is” hom na hulle gestuur het (Eks. 3:14).

Net soos God die volk uit die slawerny van Egipte gered het, so red Jesus ons uit die mag van die dood. Hy oorwin alle vorme van die dood soos die liggaamlike dood, geestelike dood en die dood in die verderf.

"Glo jy dit?" Dit is die vraag waaroor elkeen van ons diep moet dink. Dit is die vraag wat Jesus aan Marta, maar ook aan elkeen van ons vandag vra. Dit is hierdie geloof wat vertroos en bemoedig in 'n dolle gejaagde wêreld . Dit is ‘n vraag wat ons tot stilstand dwing om te erken dat Christus ons lewe bepaal.

Hy alleen gee sin en doel aan ‘n lewe wat jaag na die dinge wat aan die verbygaan is.

Vrae tot introspeksie:

a) Dink aan ‘n voorbeeld waar jou lewe wys dat jy nog in aardse goed jou einddoel/waardigheid soek.

b) Watter troos vind jy daarin dat Jesus Christus jou einddoel bepaal?

27 views0 comments

Recent Posts

See All
bottom of page